Video: Taxi bars deur palissade en tref gedenkmuur met nissies
'n Taxi het vanmiddag eers 'n voertuig getref, waarna dit deur 'n palissadeheining gebars en 'n gedenkmuur getref het.
Inwoners van die Moth Huise by die Gondar Shellhole, het hulle boeglam geskrik toe ‘n taxi vanmiddag deur hul palissadeheining gebars, die gedenkmuur getref en teen die tenk tot stilstand gekom het.
Die ongeluk het net na 16:00 gebeur op die hoek van John Magagula- en Gilfillanstraat.

Mnr. Lood van Niekerk vertel dat hy met sy Ford Figo in Gilfillanstraat gestaan en wag het om oor te beweeg na Wanderersstraat. Die volgende oomblik is sy voertuig skuins voor op die neus getref.
Die taxi het verder vorentoe geploeg, waar dit deur die palissadeheining van die Gondar Shellhole Moths gebars, die gedenkmuur getref en teen die tenk tot stilstand gekom het.

Volledige gedenknissies met die klein houtkissies en die marmer bedekkings het oral gesaai gelê. Nie een van die kissies het oopgegaan nie.
Daar is niemand is in die ongeluk beseer nie.
Die bestuurder van die taxi, mnr. Nxolisi Duze, het vir die joernalis gesê dat die taxi se remme gefaal het.

- Mnr. Quinton Coetzee was ‘n ooggetuie van die ongeluk.
Hy het verduidelik dat die taxi opgekom het in John Magagulastraat, tussen twee voertuie deurgeskiet het en die sypaadjie getref het.

Mnr. Coetzee het gesien hoe dit taxi daarna die lug in vlieg, mnr. Van Niekerk se voertuig tref en deur die palissade bars.

@middelburgobserver Taxi bars deur gedenkmuur met nissies by Gondar Shellhole Moths in Middelburg.
