AfriForum het gewys hulle vergeet beslis nié van Vergeet My Nie-oord
Nadat bejaarde inwoners van Vergeet My Nie vir 52 uur sonder water gesit het, het AfriForum ingegryp!
AfriForum se Middelburgtak het die afgelope naweek honderde liters water by die Vergeet My Nie-aftreeoord afgelaai nadat die bejaarde inwoners ná 52 uur steeds sonder water gesit het.
Die oord het geen lopende water gehad nie as gevolg van die herstelwerk wat die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit aan pype gedoen het.
Mark Salzwedel, voorsitter van die AfriForumtak in Middelburg, sê die uitgerekte herstelproses het die lewe vir talle bejaardes bemoeilik, wat AfriForum genoop het om in te gryp.
Die Middelburgtak het ingespring en 650 liter water deur die loop van die naweek aangery sodat die inwoners basiese take kon verrig.
“Water is lewe, maar deesdae word inwoners, en selfs die kwesbaarste mense in die samelewing, so maklik van hierdie basiese reg ontneem,” sê Salzwedel.
Dele van Middelburg is daagliks sonder water weens pype wat onklaar raak en bars. Die inwoners van ander dele van Mpumalanga gaan ook gebuk onder gereelde wateronderbrekings.
Meer as 14 dorpe was die afgelope jaar vir meer as 48 uur sonder water. Inwoners moes in hierdie tyd op hul eie onkostes water aanskaf, terwyl munisipaliteite net skouers optrek.
“Watertenkwaens is nie voldoende nie en kan nie dorpe volhoubaar van water voorsien nie. Baie inwoners het dikwels ook nie toegang tot alternatiewe waterbronne tydens hierdie onderbrekings nie, daarom sal AfriForum voortgaan om druk op munisipaliteite te plaas om die provinsie se waterinfrastruktuur te onderhou sodat elke dorp betroubare toegang tot water het,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Mpumalanga om by die burgerregteorganisasie betrokke te raak en saam vry, veilige en voorspoedige gemeenskappe te bou.
Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.
