Videos: Storm aangedryf met sterk wind rig erge skade aan
'n Storm wat vanmiddag kort voor 16:00 in Middelburg gewoed het, het erge skade aangerig.
Talle inwoners en sakelui kon nie uit hul huise en besigheide kom weens die geweldige storm nie.
Selfs by die Middelburg Observer moes almal noodgedwonge binne bly tot die storm uitgewoed het.
@middelburgobserver Storm op 27 November om 16:00 hou selfs die Middelburg Observer se werknemers binne!
Bome is oral omgeruk
Oral in die dorp het mense laat weet dat bome omgeval het, maar veral in Kanonkop en Dennesig is daar gemeld dat daar ten minste 16 bome in die strate en ook in erwe beland het.
Lede van die Dagpatrollie probeer oral hand bysit om mense te help wat skade opgedoen het met die storm en bome wat omgeval het.


Boom wat omwaai, ruk straatligte uit
In Jeppestraat (Sentraal) het ‘n boom omgeval en ses straatligte met kragkabels saam omgeruk. Inwoners en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum is daar op die toneel om die boom op te saag en uit die pad te kry.



@middelburgobserver Boom wat omgewaai het weens storm in Middelburg, ruk straatligte en kragkabels saam.
Ook skade by vliegveld
Daar is laat weet dat daar ook skade is by van die vliegtuigloodse by die Middelburg Vliegveld met ‘n paar deure wat afgeruk is.

Donker vanaand by Liggiefees weens storm
Die storm het ook sy pad gevind deur die Middelburg Care Village en het die een groot liggie-Kersboom omgeval en aan stukke gebreek. Elsabe Dawson het laat weet dat optredes wat vir vanaand beplan is, net na ‘n ander dag sal skuif.

Storm het ook deur Mhluzi gewoed
Daar is vanaf Mhluzi laat weet dat talle haweloses se skuilings en persoonlike besittings erg beskadig is. Dakskade is aangemeld en ‘n trampolien is met die erge wind opgelig en etlike meters verder neergesmyt.


