Vrou vat diewe kaalvuis aan: ‘Een het gedreig hy gaan my skiet’
'n Jong vrou het diewe kaalvuis aangevat wat pakkies uit 'n koeriervoertuig gesteel het.
Nie eers ‘n dreigement van ‘n rower dat hy haar gaan skiet, het ‘n vrou teruggehou om verwoed teen diewe te veg nie.
Die jong vrou (wat verkies om anoniem te bly) het vanmiddag vertel van die gebeure gisteroggend in ‘n parkeerarea in Middelburg. Daar is gevra dat die presiese ligging waar dit gebeur het, weerhou word.
Sy meld dat sy op pad was terug na haar werksplek nadat sy gou om die hoek by ‘n ander besigheid was, toe sy hoor hoe iemand gil: “Help my! Help my!!” Sonder om te aarsel het sy dadelik soontoe gehardloop.
Sy kon sien dat ‘n wit voertuig, agter ‘n koervoertuig geparkeer het en dat een persoon reeds ‘n pakkie uit die koeriervoertuig gegryp het.
Volgens haar verduideliking, was daar drie persone in die verdagtes se voertuig, die bestuurder, asook een voor langs hom in die passasierskant en ‘n ander een wat agter gesit het.
Sy het op hulle afgestorm en die bestuurder, wat oomblikke vantevore nog buite die voertuig was, uit die voertuig begin trek. Die booswig het haar egter in die maag geslaan en het sy met haar vuiste terugbaklei.
Die ander verdagte het vir haar gesis: “staan terug, ek gaan jou skiet!” Sy het egter vir hom teruggeskree: “skiet en kry klaar!”
Op hierdie tydstip het die man wat agter in die voertuig was, haar deur die venster beetgekry en wou haar saamsleep. Sy het egter ook ‘n paar vuishoue op hom geplant.
Teen hierdie tyd het ‘n paar mense aangehardloop gekom en was dit een te veel vir die boewe, wat voet in die hoek gesit het.
Een van die boosdoeners het die vrou nog deur die venster beetgehad en het sy hard met die grond kennis gemaak toe sy weggeslinger is vanaf die voertuig.
Wat haar dronkslaan, is dat toe sy die eerste hulpkrete van die jong man gehoor het, gesien het dat niemand anders aanvanklik nader gehardloop het om te help nie. Sy was die enigste wat dadelik reageer het.
Sy weet baie mense sal sê dat sy ‘n dom ding gedoen het en haar eie lewe in gevaar gestel het. “Ons leef in ‘n wêreld waar dit gevaarlik is die oomblik wat jy uit jou huis uit gaan,. Hy kon my seker geskiet het as hy wou, maar ek het nie ‘n wapen gesien nie. Ek het net gereageer om hulp te verleen.”
Weens die harde val op die grond, het sy haar elmboog bietjie seergemaak en het sy oral blou kolle en skrape van die geveg en die val.
“My arm was ‘n maand gelede in gips. Ek het ‘n genetiese siekte wat die kraakbeen verbrokkel en deur die senuwees sny. Ek het egter nie daaraan gedink toe ek op hulle afgehardloop het nie. Ek wou net help.”
