’n Kanonkop inwoner waarsku dat gifstrooiers weer bedrywig is nadat hulle Deense hond oor die naweek vermoedelik gif in gekry het.
Volgens Leoni Boshoff het sy Saterdagoggend gesien dat haar Deense hond, Ashley, skielik baie swak was.
“Haar tong was ’n blou/grys kleur, sy het vreeslik gekwyl en haar oë en ore het gehang.”
Ashley is bietjie meer as ’n jaar oud en is gewoonlik baie spelerig maar kon Saterdag skaars opstaan. Leoni het Ashley se ontlasting nagegaan en het ’n klein stukkie blou plastiek gevind.
“My man was Johannesburg toe vir die dag en ek kon Ashley nie alleen veearts toe neem nie. My my ma-hulle se honde is ook voorheen vergiftig en sy het geweet hoe om my hond te behandel.”
Leoni kon vir Ashley deurtrek met geaktiveerde koolstof (mediese houtskool), vitamiene K en rou eier.
Hoewel hulle geen bewyse het dat hulle hond vergiftig is nie, glo hulle dat haar simptome ooreenstem met die tipiese Temik vergiftiging. Die gif staan ook bekend as Two-Step oor die vinnige werking daarvan.
Ashley is gelukkig baie beter vandag. Leoni het gemeld dat daar gelukkig ook niks by hulle gesteel is nie.
“Dit is daai tyd van die jaar. Mense gaan weg, of koop duur geskenke en misdaad is nou erger, so mense moet waaksaam wees,” het Leoni afgesluit.