Verdagte op heterdaad betrap in huis
’n Verdagte is op heterdaad betrap in ’n huis, met die artikels wat gesteel is, in ’n sak by hom.
Herculaas Taljaard (lid Gemeenskap in Blou en Gemeenskapspolisiëringsforum) het met die hulp van ander lede van die GPF, verlede Donderdag ‘n verdagte in ’n huis betrap.
Taljaard vertel dat hulle inligting opgevolg het van ’n inwoner in die omgewing wat reeds Woensdag gesien het hoe die verdagte uit die erf op die hoek van Kogel- en Oosstraat loop met ’n aluminium vensterraam.
Met hul aankoms by die huis was die booswig egter reeds weg.
Donderdag het die ooggetuie weer vir Taljaard laat weet dat hy die verdagte by die huis gewaar.
Taljaard, sy vrou, |Maryna, een van sy werknemers, Yusufu Tendas en Rachel Kies (GPF) het hulle na die huis gehaas.
Die twee vroue en Tendas het in die straat wag gehou, terwyl Taljaard die erf in is.
“Ek het om die huis geloop en het hy op daardie tydstip by die agterdeur uitgekom. Ek het gevra wat hy daar soek, waarop hy gesê het hy maak skrootmetaal bymekaar.”
Taljaard het geweet hy praat nie die waarheid nie, want die eienaar, me. Annemarie Koekemoer, is tans besig om die huis op te knap.
’n Sak met artikels wat in die huis gesteel is, is by die verdagte gekry.
Die polisie is gekontak en is die man gearresteer.
• Me. Koekemoer het met nadere ondersoek gevind dat sowat R10 000 se skade aangerig is deur die inbreker. Buiten die aluminium vensterraam, is ook krane en ander los artikels gesteel.
• Bhuti Justice Boloshe het gister (Donderdag) in die hof verskyn vir formele borgaansoek. Borg is geweier en is die saak uitgestel na vroeg aanstaande jaar.
