Gewilde polisiekaptein oorlede na meer as twee maande in kritiekesorgeenheid
Huldeblyke stroom in na die dood van kaptein Willem Archer gister net na 15:00 in die Nelspruit Mediclinic.
Archer was tot Oktober vanjaar nog gestasioneer by die plaaslike teen-intelligensie eenheid.
Hy was 16 dae kort op ’n 34 jaar polisieloopbaan met 33-jaar en en 349 dae diens.
Archer was op 6 Oktober in ’n ernstige motorfietsongeluk.
Hy was kritiek maar stabiel na die ongeluk, en het beide enkels en knieë, sy linkerarm, verskeie ribbebene, wang- en kakebeen gebreek.
Hy het ook ernstige breinbloeding in die ongeluk opgedoen.
Archer het verlede Woensdag nog dialise gehad, maar sy toestand het daarna aanhou versleg.
Sedert die ongeluk het sy infeksietellings wipplank gery.
Hy was deurentyd ook op ’n asemhalingsmasjien.
Hy het ook bloedoortappings ondergaan, weens ’n bloedstollingsprobleem.
Sedert die ongeluk was hy ook gereeld in die teater vir operasies.
Daar was konstant terugslae, met longinfeksies wat begin weerstandig raak het teen antibiotika.
Dokters kon op die einde niks meer vir hom doen nie.
Hy laat sy vrou Carien, dogter Leandri en seun SW agter.
