Liefdevolle sussie sterf weens hartversaking
'n Vrou se hart is stukkend na haar suster se afsterwe gisteroggend.
Marietjie Boshoff het nog gisteroggend vir haar ousus Gerda Lundall (53) ontbyt gevat, toe sy opmerk dat iets fout is.
“Haar hand het snaaks gelê en het ek weg gehardloop. Ek het nie kans gesien om nader te gaan nie en het my man gaan kyk en kort daarna vir my kom sê sy is weg,” onthou Marietjie die traumatiese gebeure.
Marietjie sê Gerda was die afgelope tyd baie siek en was onlangs ook ‘n paar dae in die Middelburg Hospitaal. Gerda is gediagnoseer met erge hartversaking en is op 11 Desember ontslaan.
Woensdagaand het Gerda omstreeks 21:30 nog ‘n nagsê-boodskap vir Marietjie gestuur en gesê hoe lief sy vir haar wasis.
“Ek het vroeg gister vir haar ontbyt gevat en haar geroep: ‘Gerda, kom eet!’, maar sy het nie gereageer nie. Ek het gesien sy lê snaaks en gehardloop na my man toe en inmekaar gesak.”
Gerda het by die Boshoff-gesin in Kanonkop kom bly na haar en Marietjie se ma, Annetjie, se afsterwe in 2019.
Marietjie vertel dat Gerda op Ermelo grootgeword het en later jare haarself bekwaam het as ‘n stafverpleegster. Sy het vir jare by die SAVF Tehuis op Carolina gewerk en het ook ‘n rukkie by die SAVF Tehuis op Middelburg uitgehelp.

As Marietjie haar suster moet beskryf, dan is die woord ‘liefde’ eerste wat in haar gedagtes opspring. “Gerda was lief vir almal. Gerda was liefde. As ons aan haar dink, dink ons net aan liefde!”
Gerda was nooit getroud nie en word oorleef deur Marietjie, halfsussies (wat in Engeland bly), Chantal en Michelle, asook Marietjie se gesin, Nico en kinders Nico (jnr) en Tianca. “Gerda het my kinders liefgehad soos haar eie,” sê Marietjie.
‘n Gedenkdiens word op 23 Desember om 11:00 by die Middelburg Begraafplaas gehou.

