Ons kyk terug op April 2024 – slange kruip uit hulle gate
Die jaar was vol hoogtepunte en laagtepunte, met Aprilmaand wat uitgestaan het as die maand van slange.

’n Skerp toename is natuurlik opgemerk omdat slange kos gesoek het voor die winter sy opwagting gemaak het.
Vrou se pynlike pofadder-pik
In Aprilmaand se eerste uitgawe van die Middelburg Observer, vertel ’n Pretoriaanse vrou vanuit die intensiewe sorgeenheid van Life Cosmos Hospitaal oor haar pynlike pofadder-pik.
Die vrou is op haar maermerrie gepik tydens ’n uitstappie by Kingdom Trails.
Dokters het so ewe gesê dat sy haarself gelukkig moet ag, omdat hulle twee weke voor die voorval ’n geweldige tekort aan teengif ervaar het.
Gelukkig het die vrou volkome herstel en is haar liefde vir stap nie deur die pofadder-pik gedemp nie.

Beeshondjie lê haar lewe af vir eienaar
Die week daarna vertel Gustav Pansegrouw van hoe sy beeshondjie, Roxy, haar lewe afgelê het om hom en sy vrou van ’n pofadder te beskerm.
Gustav en Marié woon op ’n plaas op die Loskopdampad.
Die egpaar was op pad na hulle lapa, waar ’n pofadder ongesiens weggekruip het.
Roxy en hulle twee ander honde, Slipper en Kandas het egter die pofadder gegryp en verskeur.
Roxy is in die proses raak gepik en het nie oorleef nie.

Swartmamba word aan die stert gepluk
Elbie en David Collier wat op ’n kleinhoewe op die ou Witbankpad bly het ook ’n noue ontkoming met ’n slang gehad.
David wou sy bakkie uit sy motorhuis trek toe hy ’n geritsel binne ’n boks bo sy kop gehoor het.
Hy het aan die boks getik en gesien hoe ’n slang uitseil.
David het sy bakkie uitgetrek en vir Elbie geroep.
Toe Elbie sien die slang is op pad na haar honde toe het sy hom aan die stert gegryp.
Hulle het eers besef dat dit ’n dodelike swartmamba is, nadat die slang omgedraai en sy swart bek vir Elbie gewys het.
Die slang is by ’n antieke staanhorlosie in, waar die egpaar hom toegesluit het.
Hulle het die LimPuma Herpetologiese-eenheid gekontak om die slang te hervestig.

Hoofgetuie in Dawie Nel moordsage ook skuldig aan moord, verkragting
Dawie Nel, die oud-Puma rugbyspeler word aangekla vir die moord van sy Taiwanese transseksuele vriendin.
Tydens die hofsaak kom inligting uit dat die hoofgetuie self ook skuldig is aan poging tot moord en verkragting.
Na verskeie nadraaie en uitstelle is Dawie eindelik laat hierdie jaar skuldig bevind en lewenslank gevonnis.
