Mei 2024 in kollig met Derby-lekkerte, vrugbare renosterbul en verkiesings
Meimaand het vanjaar weer talle hoogte, en soms laagtepunte opgelewer, met die winter wat ook aan inwoners se voordeure begin klop het.

Die maand het op somber noot met ’n moord afgeskop.
Min inwoners sou kon raai dat die grusame moord in ’n Suid-park, meer as vyf maande later vanjaar, weer die toneel sou wees vir die moord van ’n geliefde plaaslike onderwyser in November.
In die koerant van 10 Mei is daar oor die moord van Douw van der Walt op die voorblad berig.
Hy is aangerand, met ’n mes gesteek en daar is ook verskeie maal met ’n voertuig oor sy liggaam gery.
Hy is kaal deur sy aanvallers in die veld agter gelos.
Die bloederige toneel sou in November weer herhaal word, met Mandla Frans Mnisi wat in dieselfde park as Van der Walt, voor sy vrou met messe tydens ’n rooftog doodgesteek is.
• Die natuur bly maar ’n skouspel en twee berigte in Mei oor ’n plaaslike renosterbul en krokodil het vir lekker leesstof gesorg.
In die eerste berig is uBhetyan o Africa se pragtige renosterbul Owedru as een van die land se vrugbaarste bulle deur wildskenners geklassifiseer.
Die wildsplaas het gasheer gespeel vir ’n klomp veeartsenystudente van die Rhino Connect bewaringsprogram.

Die 15-jarige renosterbul is een van die plaas se grootste trekpleisters en boonop spog hy met ’n saadtelling van bo 80%, en van die vrugbaarste bulle nog in die land.
Die plaas se renosterkoei Codi is ook by die teelprogram betrek met eierselle wat by haar getrek is.
Beide se biologiese materiaal sal nou bewaar word om die land se renosteraanwas te versterk.
Bloed is ook by ’n ander koei getrek wat aan renosterwesies geskenk kan word, om so die land se renosteraanwas ’n hupstoot te gee.
Yane, die bloedskenker-koei was tydens die besoek reeds hoogs dragtig, en vir haar en die kalf se veiligheid is haar eierselle eers oorgesien.
• In dieselfde uitgawe waarin Owedro se viriliteit besing is, het ’n plaaslike hengelaar meer as net ’n stewel uit Loskopdam gehengel.
Aan die hengelaar se hoek was ’n allemintige krokodil, wat hopelik nie intussen ’n stewel geword het nie, weens die feit dat niemand eintlik weet wat na die vangs van die plathond geword het nie.
Boonop is die hengelaar, CP Bothma op 4 Mei weens die vangs gearresteer, nadat hy op ’n TikTok video van die insident geïdentifiseer is.
Bothma wou op regsadvies nie oor die vangs uitbrei nie, en daar was vrese dat daar dalk blywende skade kon wees vir die krokodil weens die hoek en vislyn, wat Bothma beweer hy verwyder het.
Krokodille is ’n beskermde spesie en mag nie gevang of vrek gemaak word nie.
• Meimaand is ook Derby-tyd, en Hoërskool Middelburg en Hoër Tegniese Skool Middelburg het andermaal nie in die steek gelaat nie, met die Rooi Bulle wat vanjaar se eerste rugbywedstryd gewen het.
Middies het egter weer staal gewys en koning gekraai op die netbal en hokkievelde, sowel as die rugbyveld.

Die derby is jaarliks ’n hoogtepunt op die plaaslike sportkalender, met ander skole soos Hoërskool Kanonkop en Steelcrest, sowel as plaaslike laerskole wat hul eie derbies op die been gebring het.
Vanjaar se laerskole derby is deur Laerskool Middelburg gewen, terwyl Kanonkop se Swart Leeus koning in die kragmeting teen Steelcrest gekraai het.

• Baie inwoners se tone het in Meimaand van pure lekkerkry gekrul, na die ANC en EFF ’n loesing by die stembusse gekry het.
Plaaslik het gissings van korrupsie en die gevolglike bedankings van drie top munisipale bestuurders, ook ’n beduiende effek op die stembusse gehad.
Hoewel die groter partye almal effens slegter gevaar het, was die boodskap duidelik dat die ANC nie in die toekoms sonder koalisievennote sal kan regeer nie, wat die DA insluit.

