Gru-ongeluk eis 7 lewens, waaronder kleuter en baba
Sewe mense, waaronder 'n sesjarige kind en 'n baba, is opslag dood in 'n ongeluk vanmiddag op die N4.
Slegs een vrou het oorleef in ‘n gru-ongeluk vanmiddag op die N4, wat die lewens wat sewe mense geëis het.
Die ongeluk het omstreeks 13:45 op die N4 tussen Sunbury en Wonderfontein, sowat 25km buite Belfast plaasgevind.
Na wat verneem word was dit ‘n trompop botsing tussen ‘n donkergrys en ‘n wit BMW.
In die wit BMW het twee kinders, onderskeidelik ongeveer ses jaar oud en ‘n baba, asook twee vroue en ‘n man gesterf. Een vrou is ernstig beseer en is per ambulans na die Belfast Hospitaal afgevoer.

‘n Man en ‘n vrou het in die grys BMW gesterf. Met die impak van die slag het die donkergrys BMW se enjin en voorwiele heeltemal afgeskeur van die bakwerk.

Daar word verneem dat die insittendes van die grys BMW moontlik van Kempton Park afkomstig kan wees en die wit BMW se oorledenes waarskynlik inwoners is van eMalahleni. Dit is egter nog nie bevestig nie.

‘n Gedeelte van die pad was vir ‘n geruime tyd gesluit, terwyl die forensiese span en ander polisielede hul ondersoek op die toneel gedoen het. Opruimingswerk het reeds begin en is die grootste gedeelte van die pad weer oop.

