JP Nortjé, oftewel Piet onder sy familie en vriende, het Sondagoggend omstreeks 07:40 by sy huis in Clubville weens ‘n hartaanval gesterf.
Tania Joubert, ‘n familievriend van die gesin, sê hy is vroeër hierdie jaar met longkanker gediagnoseer.
“Ou Piet het altyd laggend gesê hy is lus vir ‘n maklike fight. Dit was vir hom ‘n maklike fight na die ewige lewe toe! Hy het baie mense se lewens aangeraak en was so ‘n diep mens.”
Sy vrou, Lynette, was sy hele lewe en sal almal onthou hoe hy altyd vir haar gesê het: ‘True love my Bok.’ Die egpaar was 15 jaar saam, waarvan hulle 11 jaar getroud was.

Lynette het op Facebook hul laaste foto saam geplaas en daarby geskryf: “My lief, Liewe Jesus het jou kom haal uit daardie baie pyn uit. Jou suffer is verby Bok. Jy het soveel diep spore getrap in almal se lewens en memories gelos, maar vir my los jy met ‘n baie groot leemte. My hart is in miljoene stukke gebreek my Piet, maar ek weet jy gaan my plekkie voorberei en jy wag vir my, want almal het geweet ons was true love. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Gaan jou mis my bok en I love you to the moon and back.”

Tania meld dat Piet homself ‘die wit Zoeloe’ genoem het omdat hy die taal so goed kon praat. “Piet kon die Onse Vader op die kitaar speel en in Zoeloe saamsing, soos wat Dozi dit altyd gesing het. Dié lied van Dozi sal tydens sy roudiens gespeel word.”
JP word oorleef deur Lynette, kinders, kleinkinders, susters en familie.
‘n Roudiens word Saterdag om 11:00 uit The Light Ministries gemeente in Dahliastraat gehou.
