Oktober 2024 onder loep – Van Stillknocks se kuier tot moordraaisel op N4
Oktobermaand begin vanjaar met ’n bietjie aksie, en dis natuurlik sportopskrifte waarmee daar afgeskop word.

• As die UFC se middelgewig wêreldkampioen Drickus Stillknocks du Plessis in Middelburg kom kuier is daar beslis geen ‘stillknocks’ aan die deur nie, maar word die welkommat behoorlik uitgerol.
Diegene wat nog nie geweet het wat ons weet nie, weet nou, na sy kuiertjie, dat Drickus hou van kuier saam met sy medelandsburgers.
Hy het by Hoërskool Middelburg aangedoen vir ’n vrae-en-antwoorde sessie waarna daar natuurlik gebraai is.
Na die kuier by Middies was gaste dit almal eens hoe ‘nederig’ die hokvegter is.
In dieselfde uitgawe waarin Drickus se kuier besing is, het ons eie plaaslike ysterman Daniel Griesel ook ’n ereplek op die agterblad gekry.
Daniel het vir die HYDROX wêreldkampioenskappe in Chicago gekwalifiseer, waar hy die komende Junie kragte met ander ystermanne sal meet.

• Die dorp het ook die welkommat uitgerol vir klein Lilie Fouché, ’n plaaslike vegtertjie in haar eie formaat, wie se tuiskoms uit die hospitaal na ’n lelike motorongeluk wat haar pa Morné se lewe geëis het.
Die koerant het op die voorblad berig dat Lilie wakker geword het in die hospitaal, nadat dokters nie veel hoop gehad het nie.
Sy het haar 20% kans op oorlewing met veggees omgeswaai na 100%, en naas haar pa se dood in dieselfde ongeluk waarin sy so lelik beseer is, moes sy ook haar oupa aan die dood afstaan net twee dae voor haar groot ontwaking.
Sy is tuis en het boonop ’n akademiese merietetoekenning by Laerskool Kanonkop tydens die prysuitdeling ontvang.
Oupa Johny (84) was saam die pa en dogter in die voertuig tydens die ongeluk.

• Een van die grootste raaisels die jaar het gedurende Oktober op die N4 plaasgevind.
Daar word steeds gesoek na die moordenaar, of moordenaars van Ayanda Mapalala Ngobeni en Busisiwe Khumalo wie se liggame in ’n stilstaande BMW langs die N4 aangetref is.
Beide vroue is verskeie maal geskiet onderweg Mbombela toe vanaf ’n motorfietssaamtrek in Emalahleni.
Die bestuurder van die BMW was nie op die toneel toe die liggame ontdek is nie.
Die polisie het later gesê dat die bestuurder by die polisie aangemeld het.
Die BMW was vol koeëlgate en daar was ook gerugte dat patroondoppies binne en buite die voertuig gevind is.
Die voertuig is net sowat 5km vanaf die bedrywige Alzu russtop op die N4 gevind.
Die dossier is later na Mbombela toe oorgeplaas vir verdere ondersoek en sedertdien was daar nog nie ’n deurbraak in die opspraakwekkende moorde nie.

• Hoërskool Middelburg is een van die land se topskole. En die gesegde dat ’n hoof ’n skool maak of breek, het beslis gestalte gekry in ou Stronkie, Middies se geliefde skoolhoof Johan Stronkhorst, wat vanjaar halt roep in die onderwys, en op ’n plaas gaan aftree.
Stronkhorst is in April 2000 op die ouderdom van 35-jaar as Hoërskool Middelburg se hoof aangestel.
Daar was tydens sy afskeid genoem dat hy ‘in onstuimige tye’ die leisels by die skool oorgeneem het na ’n rampspoedige dekade vir Middies gedurende die 90’s waartydens hordes leerlinge die skool verlaat het.
Middelburg Observer se eie oud-redakteur Tobie van den Bergh, wat self vanjaar afgetree het, het as gasspreker tydens die afskeidsdinee opgetree.
“Ons hoef nie uit te wei oor al sy prestasies, die gesonde finansies, die pragtige skoolterrein, akademiese en sportprestasies nie,” het Van den Bergh gesê voordat hy Hoërskool Middelburg as nasionale monument verklaar het, te danke aan Stronkhorst se hand oor die skool die afgelope 24-jaar.

• Gedurende Oktober het ’n plaaslike polisieman ook geleer dat ’n uniform jou nie verhef bo die gereg nie.
Die polisielid was agter die stuur van ’n voertuig wat tydens ’n begrafnisstoet in Van der Merwestraat, Clubville, teen ’n stilstaande bakkie gebots het.
Die voertuig het ook verskeie bome getref en twee van die voertuig se insittendes is op die toneel dood, terwyl die polisieman feitlik ongeskonde uit die wrak geklim het.
Verskeie drankbottels is op die toneel gevind.
Die polisielid se bloed is op die toneel getrek vir alkohol-ontleding.
Hy staar nou twee klagtes van strafbare manslag in die gesig.
Klagtes sal waarskynlik later opgegradeer word, afhangende van die bloed-alkohol verslag wat soms meer as ’n jaar uitstaande kan wees.

