News

Middelburg neem afskeid van groot plaaslike geeste in November oorsig

Daar word hulde gebring aan groot geeste in ons dorp.

• In November, net dae nadat Hoërskool Middelburg afskeid geneem het van hul hoof, Johan Stronkhorst wat nou op pensioen is, is die dorp getref met die slegte tyding dat Hoër Tegniese Skool Middelburg se hoof, Hoppie van Jaarsveldt, dood is na ’n roetine operasie om ’n gewas in een van sy sinusholtes te verwyder.

Dit los beide skole met diep voetspore wat in 2025 gevul moet word.

Van Jaarsveldt was sedert 24 Oktober in die Unitas Hospitaal waar die operasie gedoen is.

Leerlinge van HTS was salig onbewus van Van Jaarsveldt se operasie, en die skoknuus van sy afsterwe is midde die matriek-eindeksamen ontvang.

Van Jaarsveldt was onder andere ook aan Hoërskool Delmas en Roodepoort verbonde.

• In die uitgawe van 8 November waarin die koerant berig het oor Hoppie van Jaarsveldt se dood, het die dorp, en veral die dorp se polisiemag ook met skok te wete gekom van die dood van Thinus Rossouw, ’n bobaas speurder, wat met reg beskou is as een van Middelburg se beste polisiemanne nog.

Hy is in die Panorama Hospitaal in die Kapp weens nierversaking oorlede .

Rossouw was onder meer betrokke by die opspraakwekkende ‘tasmoord’ waaraan Riku en Jano Nortjé skuldig bevind is.
Die tasmoord-saak is later tot televisiefilm vervaardig.

Die Nortjés het die 76-jarige Engel Leendert Bakker met ’n bofbalkolf aangerand, en sy liggaam in stukke opgesny en gesaag terwyl hy nog lewend was.
Die liggaam is later in stukke in ’n tas gevind.

Beide moordenaars is in 2013 op parool vrygelaat.

• Daar is ook gedurende November vanjaar afskeid geneem van die bekende plaaslike advokaat Hein Brauckmann wat tuis oorlede is.
Hartversaking was waarskynlik die oorsaak van sy dood.

Hy het plaaslik as prokureur begin, waarna hy as advokaat in die hoggeregshof opgetree het.

Weens sy uitgebreide regskennis is Brauckmann ook voor sy dood as waarnemende regter in die plaaslike hooggeregshof aangestel.

• Die koerant het in November ook die identiteit van die onderwyser wat voor sy vrou dood gesteek is met messe tydens ’n rooftog in ’n parkie bekend gemaak.

Mandla Frans Mnisi se wrede dood was die derde moord in dieselfde parkie, met Douw van der Walt wat in Meimaand vermoor is.
Sy moord bly een van vele plaaslike onopgelosde moorde, met sommige wat meer as tien jaar gelede gepleeg is.

Die onopgeloste moorde het tot een van die koerant se treffendste voorblaaie vanjaar gelei, waar die foto’s van 16 slagoffers wie se families nog wag vir geregtigheid, gepubliseer is.

Die voorblad het gestalte gekry na ’n skokonthulling deur die plaaslike polisie aan die koerant, met die polisie wat gesê het dat hulle nie die saak van ’n uitgebrande Nissan Almera agter Dennesig verder sal ondersoek nie, omdat die eienaar nie ’n saak by die polisie gaan maak het nie.

Waar die eienaar was, kon die polisie egter nie sê nie.

Daar was vrese dat die eienaar dalk dieselfde lot as twee moordslagoffers wie se uitgebrande VW Golf langs die Vandyksdriftpad gevind vroeër vanjaar, kon geloop het.

Ondanks die vrese, het die polisie geweier om die saak verder te ondersoek, maar kon hulle ook nie die eienaar in persoon opspoor nie.
Tot hede was daar nog geen verduidelikings vanuit die polisie oor hoekom die voertuig uitgebrand agter Dennesig gevind is nie.

• Min dinge kan Suid Afrikaners so bly maak soos ’n Springbok loesing op die rugbyveld, en deel van die span is natuurlik Kwagga Smith.

In November het Kwagga sy 50-ste wedstryd vir die Springbokke gespeel, en Middelburg het die mylpaal luidkeels langs die kassie saam Kwagga gevier.

Kwagga was natuurlik leerling van Hoër Tegniese Skool Middelburg, en sy talent is reeds by die Rooi Bulle al deur talentsoekers raakgesien.

By HTS het hy natuurlik vroeg al Cravenweek- spanne gehaal en ook vir die Pumas se o/18’s uitgedraf.

Die res is geskiedenis soos hulle sê, met Kwagga wat Middelburg bly trots maak in die Groen en Goud.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button