Video: Jong man beseer nadat motorfiets sypaadjie en gat tref en hy meters ver geslinger word
'n Motorfietsryer het ernstige beserings opgedoen nadat hy etlike meters deur die lug geslinger is toe sy motorfiets 'n sypaadjie en gat getref het.
‘n Pa en sy kinders was saam met ‘n vriend ooggetuie van ‘n motorfietsongeluk waar die motorfietsryer van sy motorfiets afgeslinger is.
Zain Powell (25) het ernstige borsbeserings opgedoen in die ongeluk wat omstreeks 15:10 in Sipresweg (Kanonkop) gebeur het.
Johnny Odendaal vertel dat hy en sy dogter, negejarige seuntjie en ‘n vriend by die Kanonkop/Dennesig dammetjies ‘n draai gery het om te gaan kyk hoe dit daar lyk.
Hulle het die motorfiets hoor aankom vanaf Proteastraat se kant af en het Johnny dadelik in sy truspieëltjie gekyk. Die ander insittendes het omgekyk en in afgryse die hele ongeluk sien gebeur.
Die motorfiets het net na die draai die sypaadjie getref, op die sypaadjie gespring, waarna dit ‘n gat in die veld getref en een van die wiele afgeruk is. Johnny meld dat hy gesien het hoe die jong man deur die lug vlieg en hy etlike meters verder eers te lande gekom het. Die motorfietswiel en motorfiets het meters ver van mekaar tot stilstand gekom.

Motoriste het dadelik op die toneel gestop en het omstanders vir Zain, wat probeer opstaan het, gemaan om te bly lê. Zain het die hele tyd van erge pyn gekla.
Zain is ondersteun deur sy familie, asook Juanitha Groenewald (voorsitter, gemeenskapspolisiëringsforum), ander lede van die gemeenskapspolisiëring (Sektor 4), en omstanders tot die ER24 ambulans opgedaag het.

Hy is deur paramedici van ER24 gestabiliseer en hospitaal toe afgevoer. ‘n Paramedikus van Netcare 911 en brandweerlede het ook hulp verleen op die toneel.


- Zain se tannie, Vanessa Engelbrecht, het op die toneel gesê dat sy die Yamaha R1 motorfiets ‘n week terug gekoop het.
@middelburgobserver Seriously injured motorcycle rider stabilised on scene after accident.
