Ten minste nege mense bly onwettig in ou gimnasium
Tydens 'n klopjag deur die Dagpatrollie, het hulle nege mense gevind wat onwettig in die ou Broers Gimnasium in Springbokstraat bly.
Lede van die Dagpatrollie het ‘n klopjag uitgevoer by die ou Broers Gimnasium perseel in Springbokstraat, nadat inwoners gekla het oor onwettige plakkers wat skade by die perseel aanrig.
Frikkie Vermaak (Dagpatrollie) sê hulle is omstreeks 23:30 na die perseel.
“Ons het nege mens, ses in die huis en drie in die ou gimnasiumgedeelte, gekry wat onwettig daar bly.” Beddegoed wat oral gelê het, dui egter aan dat daar moontlik nog mense op die perseel bly.
Dit blyk dat daar geen lopende water tans daar is nie, aangesien die watermeter gesteel is en het ‘n aardige reuk in die lug gehang.
Buiten die beddegoed, het die patrollielede ook naalde en foeliepapiertjies in die huis gekry, wat ‘n aanduiding is dat daar moontlik dwelms gebruik word. Daar is egter geen ander tekens van dwelms gekry nie.


Me. Leandri Kapp (van die Arrayah Sentrum vir kinders met spesiale behoeftes) het vanoggend gemeld dat hulle weet van die probleme by die eiendom.
Die Arrayah Sentrum is in die proses om die eiendom te koop, maar sy noem dat die kooptransaksie nog nie gefinaliseer is nie, weens talle uitdagings “en papierwerk,” aangesien hulle dit koop uit ‘n boedel.
Die huis was eers in Broer Gunter, wat die eienaar was, se boedel na sy afsterwe, waarna dit weer in sy vrou, Annemarie, se boedel ingegaan het na haar dood.
Talle mense het al by haar kom kla en dan het lede van die gemeenskapspolisiëringsforum vir haar daar ‘n draai gaan maak om gure karakters te verwyder.
“Middelburg is ‘n dwelmhool en is die plek besig om al hoe meer ‘n bouval te word. Ons probeer hard om die koop deur te ry!”
Die Arrayah Sentrum het verlede jaar ‘n gholfdag gehou, juis vir die opgradering van die perseel sodra die kooptransaksie deur is.
“Dit gaan egter ‘n paar honderd duisend rand kos om die plek op te gradeer.”
Me. Kapp sê hulle plan is om aanvanklik die gebou as belegging vir die skool te gebruik en ut te verhuur.
“Ons langtermynplan, wat dalk tot 10 jaar kan duur, is om die eiendom te hersoneer sodat ons dit kan gebruik vir die skool vir die ouer leerlinge.”
Hulle huur tans ‘n eiendom by die Witkerk, waaruit die skool hul werksaamhede bedryf.
- Die Arrayah Sentrum bied hulp vir kinders met fisiese en leeruitdagings soos outisme, dwergisme en Down-sindroom.
