KYK: Hommeltuie nou ingespan om hiasinte te bespuit, Loskopdam van ekokrisis te red
Miljoene waterhiasinte sal van more af in die Olifantsrivier vanuit die lug bespuit word met akwatiese vriendelike gif.
Met die mildelike reën en ’n sluis by die Witbankdam wat reeds gelig moes word, vrees Loskopdam en die Groblersdal vallei se boere dat miljoene plante van dié waterpes met vloedwaters Loskopdam toe sal stroom.
Die hiasinte is tot onlangs toe nog deur Clarissa du Plessis, wat eiendom langs die rivier op die ou-Witbankpad gehad het, bespuit nadat haar maatskappy, King Louis, hande met Working on Water gevat het, en tenders toegeken is vir die bespuiting en verwydering van hiasinte.
Du Plessis het egter haar eiendom verkoop en weg getrek, en sedertdien was tenders die afgelope twee jaar nog nie weer toegeken nie.
Die gevolg was dat ondeurdringbare tapyte waterhiasinte in die rivier die afgelope twee jaar, vasgeanker geraak het waar hulle lê en saadskiet.
Die krisis is nou genadiglik afgeweer met gifstowwe wat more afgelewer word, en met hommeltuie op die hiasinte bespuit sal word.
Intussen word voorlaaiers en tieptrokke ingespan om die miljoene plante wat reeds deur vloedwaters stroomaf meegesleur is tot by Olifants River Lodge, uit die water te haal.

Grondeienaar André Booyens sê dat hulle die welkome nuus gekry het dat die Loskop Besproeiingsraad, wat hande gevat het met die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad se akwatiese spesialis dr. Francois Roux, nou kosteloos hommeltuie, hommeltuigvlieëniers en ander bemanning sal beskikbaar stel, om die krisis tussen Middelburg en eMalahleni te kom help beredder.
Booyens sê in ’n boodskap aan grondeienaars dat die besproeiingsraad hom die week besoek het en hom meegedeel het van die ingryping.
Daar word nou daadwerklik ingegryp om te verhoed dat die ekokrisis na die Loskop waterskema versprei.
Die gif is ’n akwatiese vriendelike gif wat nie inheemse plante of akwatiese diere bedreig nie.
Die pojek behoort teen more in volle swang te wees.
Boere van die Loskop vallei was so bekommerd oor die dreigende gevaar dat hulle die besproeiingsraad genoop het om in te gryp.
Grondeienaars waarmee Middelburg Observer gesels het verwelkom die nodige stap.
Waterhiasinte vermenigvuldig so vinnig en baie dat wateroppervlaktes heeltemal versmoor word, deur sonlig en suurstof te blok, en grootskaalse inheemse vis en waterplant vrektes veroorsaak.
Kruiwaens vol gevrekte vis is reeds aangemeld.
Die weer gaan egter ’n groot rol speel en daar word gehoop op reënstilstande sodat bespuiting effektief gedoen kan word, voordat verdere vloedwaters die plante Loskopdam toe meesleur.
• Daar’s sprake dat dat reeds enkele hiasinte verby die kabel by die Loskopdam ingevloei het.
@middelburgobserver The invasive water hyacinth has been washed down the Olifants River and is now piling up against the bridge to Presidentsrus after a sluice was opened at Witbank Dam.
