KYK: Rolspelers mobiliseer om waterhiasinte in Loskopdam te stuit
Waterhiasinte, ’n indringerspesie wat ernstige nagevolge kan veroorsaak, is reeds in Loskopdam opgemerk.
Nuus dat waterhiasinte die kabel by Loskopdam se inloop, wat gespan is om plante uit te hou, oorgesteek het, het rolspelers genoop om dringende stappe te neem om ‘n ekologiese ramp te vermy.
‘n Beplande skoonmaakprojek oor die naweek sal nie meer op rommel en hengelafval fokus nie maar eerder om soveel as moontlik van die indringerplante te verwyder, terwyl boere van die Loskop Besproeiingsraad, in samewerking met die provinsiale parkeraad, nou hommeltuie gebruik om die plante in die Olifantsrivier, tussen Middelburg en Emalahleni, met gif te spuit.
Kevin Ruthven van Kingdom Trails, wat tussen Loskopdam en Middelburg geleë is, het bevestig dat ’n 30km strook van die Olifantsrivier reeds oortrek is van waterhiasinte.
Kingdom Trails is naby Doornkop, tussen Middelburg en Loskop geleë, en Ruthven sê dat hiasinte wat huidiglik in die Olifants is, beslis hul weg maak na Loskopdam.
“Hier’s niks wat hulle keer nie,” sê Ruthven.
Boere van die Loskop Besproeiingsraad, in samewerking met die Mpumalanga Toersime en Parkeraad, het die week besluit om hommeltuie en gif gratis beskikbaar te stel om die miljoene waterhiasinte wat al twee jaar lank opdam in die Olifantsrivier tussen Middelburg en Witbank, onder beheer te help bring.
Die parkeraad het in ’n skrywe bevestig dat die probleem vinnig vererger het sedert Desember.
Die lugbespuiting met hommeltuie sal vandag (Vrydag) afskop en groot gedeeltes van die Olifantsrivier sal bespuit word, mits dit weer reën. Daar is tans ’n 70% kans op donderbuie rondom Middelburg, wat die bespuiting van die hiasinte dalk vandag kan bemoeilik.
Jaco Coetzee van Loskop Kloofing en Hiking het vanoggend bevestig, dat die fokus van Loskopdam se skoonmaakprojek more (Saterdag) drasties verskuif het van die verwydering van rommel en verspoelde vislyn en kunsaas op die oewers en wateroppervlak, na die verwydering van die waterpes uit Loskopdam.
“Die waterpes het reeds die kabel by die inloop van Loskopdam wat gespan is om die plante uit te hou, oorgesteek,” sê Coetzee.
Vrywilligers wat bote, bakkies en arbeid beskikbaar gestel het vir die naweek se skoonmaakprojek, sal nou ingespan word om waterhiasinte te verwyder.
Elf bote is beskikbaar gestel en sowat 60 vrywilligers sal help.
Daar is ook sedert Woensdag met voorlaaier-trekkers begin om die miljoene hiasinte wat tans ophoop teen die laagwaterbrug by Olifants River Lodge in Presidentsrus, uit die rivier te verwyder nadat ’n sluis by Witbankdam gelig is.
Die moontlikheid dat ’n sluis by Middelburgdam ook teen die naweek gelig kan word, kan verdere nadelige gevolge vir die verspreiding van waterhiasinte na Loskopdam inhou.
Inwoners tussen Middelburg en Witbank sê dat hul aanhoudende klagtes by waterwese en die Emalahleni munisipaliteit tot dusver geensins aagespreek is nie.
Die resultaat is dat die waterpes die afgelope twee jaar sonder ingryping in ’n wesenlike ekologiese ramp ontaard het.
Visvrektes in die Olifantsrivier word sedert verlede jaar al aangemeld.
Grondeienaars tussen Middelburg en eMalahleni het die ingryping van Groblersdal se boere, betrokke by die Loskop Besproeiingsraad, geloof.
@middelburgobserver The Hyacinth invasion intensifies. The plants already invading the Olifants River between eMalahleni and Middelburg, have also spread to Loskop Dam. Footage provided by Kevin Ruthven shows in making its way downstream to the Loskop valley.
