Reën skrik nagsluipers nie af om oor mure te spring, te steel nie
Drie slotte by Wendy-huis gebreek
Daar is gisteraand vir die tweede keer by ‘n huis in Oosstraat toegeslaan, waar die betreder ook vir die tweede maal die eiendom se mure beskadig het tydens die inbraak.
Volgens me. Dawn Roodt is sy en haar man Chris vanmore begroet met ‘n muur wat gedurende die nag omgeval het.
Die muur het na buite, pad se kant toe, gekantel.
Met verdere ondersoek van die erf, is daar gevind dat die Wendy-huis oogebreek is.
Dit is die tweede keer sedert die begin van die jaar dat die Wendy-huis geteiken is.
Volgens Roodts is drie slotte by die Wendy-huis gebreek om toegang te verkry.
Roodt sê egter dat die Wendy-huis feitlik leeg is, met net boute en skroewe en drie stoele daarbinne.
Chris het met die vorige inbraak die grassnyer uit die Wendy verwyder, en die waardevolle gereedskap wat in die huise was, vir sy seun gegee.
“Daar is letterlik niks om te steel nie,” sê sy.
Die muur is egter ‘n ander saak, en gaan hulle weer geld kos om te herstel, nadat dit ook tydens die vorige inbraak beskadig is, en die muur op hul aandrang effens gelig is.
Chris het dadelik die stene wat gered kon word, terug gegooi in sy erf.
Hulle sal nou weer die muur met so vier rye stene lig sê Roodt.
