Jong man wat ‘enige vertrek kon ophelder’ sterf in ongeluk
’n Oudleerling van Hoërskool Middelburg het Saterdag gesterf in ’n ongeluk met sy veldmotorfiets
Almal wat Bulla le Roux (24) geken het, onthou hom as ’n avontuurlustige jong man wat ‘met sy glimlag enige vertrek kon ophelder.’
Juandré (Bulla) het saam met vriende Saterdag gaan ry met hul veldmotorfietse op die Avontuurpad. Sy suster, Charné, sê daar was ’n blinde draai op die pad en kon nie hy of die bestuurder van die bakkie betyds uitswaai nie. Bulla het opslag in die botsing gesterf.
Bulla was ’n oudleerling van Hoërskool Middelburg en baie gewild onder almal wat hom geken het. Daar is gesê dat hy ’n impak gemaak het op vele mense se lewens.
Hy word oorleef deur sy verloofde, Katia Rodrigues, ouers Riaan (Pote) le Roux, Sonja en Daleen, susters Charné, Lizelle en Michell, broer Shannon en swaers Charles, Marthinus en Riaan.
’n Roudiens word Vrydag om 14:00 uit die Grow Church, Leydstraat 2, Dennesig, gehou.
- ’n Volledige huldeblyk oor Bulla se lewe kan gesien word in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer.
