News

Alle hande aan dek teen waterhiasinte in Loskopdam!

Vrywilligers het moue opgerol om die hiasintkrisis by Loskopdam aan te pak.

Die Loskop Besproeiingsraad, WeWild Africa, en verskeie vrywilligers het buite hul Limpopo-grense opgetree deur hul eie fondse, en hulpbronne, sedert verlede week in te span om die waterhiasintkrisis in die Olifantsrivier tussen Middelburg en eMalahleni, sowel as by Loskopdam, aan te pak.

Die miljoene hiasinte in die Olifantsrivier sou verlede week met behulp van die Loskop Besproeiingsraad tussen Middelburg en eMalahleni vanuit die lug met hommeltuie met gif gespuit word. Die waterpes kon egter nie bespuit word nie, weens voortslepende reën.

Die ingryping deur die besproeiingsraad en natuurbewaarders van die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad, is van stapel gestuur om die ekologiese, en toekomstige ekonomiese verwoesting wat hiasinte in Loskopdam kan veroorsaak, aan te spreek.

Jaco Coetzee van Loskop Kloofing & Hiking het op sy beurt weer ’n reuse skoonmaak-projek by Loskopdam georganiseer, met vrywilligers wat saamgespan het om hiasinte uit die dam te haal.

Mnr. Joop Smit staan by die brug op die ou Witbankpad stroomop van Loskopdam. Hierdie is ongeveer 40km vanaf Loskopdam. FOTO: WeWild Africa.

Die samewerkingspakt uit alle oorde, is gesluit nadat daar meer as twee jaar gelede tenders deur Working on Water toegeken is om waterhiasinte in die Olifantsrivier tussen Middelburg en eMalahleni uit te roei, en te verwyder.

Waterhiasinte is een van die top tien mees verwoestende indringerplante ter wêreld.

Die pes wat inheemse plante en vis op groot skaal uitroei, en waterbronne selfs steriel kan laat, bedreig nie net die ekologie en toerisme by Loskopdam nie, maar Suid-Afrika se tweede grootste landbou- en besproeiingskema, die Loskop Waterskema.

Sonder volgehoue, en langtermyn ingryping kan Loskopdam ’n krisis in die gesig staar soortgelyk aan dié van Hartbeespoortdam.

Die Loskop Besproeiingsraad hou toesig oor die bestuur van Loskopdam en waterbronne wat die Loskopvallei voed, terwyl die departement van omgewingsake en natuurbewaring verantwoordelik is vir oorsig stroomop, na Middelburg.

Die oorsigswerk verhoed dat skadelike besoedeling en aktiwiteite wat ekosisteme soos die Olifants- en Wilgerivier kan beïnvloed, hok te slaan.

Loskop Besproeiingsraad, WeWild Africa en ander rolspelers het reeds op 7 Januarie by André Booyens, wat grond tussen Middelburg en eMalahleni langs die Olifantsrivier besit, ’n besoek afgelê, en die skok oor die hiasint-aanwas in die rivier was groter as wat verwag is.

Booyens was bly om die welkome nuus te kry dat die Loskop Besproeiingsraad nou sal hande vat met die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad se akwatiese spesialis, dr. Francois Roux, asook WeWild Africa met sy internasionale bande, sodat daar ’n gekoördineerde aanslag teen die hiasinte gevoer kan word.

Teen Donderdag het hul reeds begin om ’n groot hoeveelheid waterhiasinte vanuit die rivier by Presidentsrus, by Olifants River Lodge te verwyder. Hier is ongeveer 120 ton se hiasinte uitgehaal.

Die groep rolspelers het Vrydag ook ’n kabel van meer as 200 meter oor die boonste deel van Loskopdam aangebring (waar die Olifantsrivier invloei), wat ontwerp is om die verspreiding van hiasinte te keer.

Hiasinte stroom na die treinbrug in die Olifantsrivier tussen Middelburg en eMalahleni. FOTO: WeWild Africa.

Daar is ook Saterdag begin om die bestaande hiasinte in Loskopdam te verwyder, met Coetzee wat die projek gelei het.

Saterdag is daar ook nog ’n kabel, sowat 1.5km stroomop van die invloei aangebring, en Dinsdag die week is ’n derde kabel, ongeveer 3km stroomop van die dam, gespan.

Die Loskop Besproeiingsraad, WeWild Africa, en verskeie vrywilligers het Sondag weer hiasinte uit die dam verwyder, nadat ’n sluis Saterdagnag omstreeks 23:00 by die Middelburgdam gelig is, nadat vier sluise ook onlangs by Witbankdam gelig moes word.

Saterdag het meer as 50 vrywilligers wat deur Coetzee georganiseer is, opgedaag.

Loskop Besproeiingsraad en WeWild Africa het beide onmiddellike en langtermynplanne geïmplementeer om die ekokrisis aan te spreek.

Op die korttermyn word kabels en vragmotors gebruik om hiasinte te keer en te verwyder.

Op die langtermyn ondersoek hulle ’n plantspringer-teelprogram om die hiasinte biologies te beheer en uit te roei.

Tot op hede is geen chemiese bespuiting uitgevoer nie, aangesien die spanne eerstens poog om omgewingsimpakte te minimaliseer, hoewel gif ook nie effektief in die reën toegedien sou kon word nie.

https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7460765551745453317

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button