Kar beland in mielieland langs N4
’n Voertuig het gisteraand in ’n mielieland op ’n plaas langs die N4 beland.
Noodwerkers wat gisteraand besig was op ’n toneel by die Bethal-afrit waar ’n Isuzu Dubbelkajuit bakkie gerol het, is ook na ’n ongelukstoneel in ’n mielieland ontbied, maar die bestuurder van dié voertuig was skoonveld.
David Ross (Ross Towing) het vanoggend op die Traffic Alert-groep almal laat weet dat hulle nie hoef aandag te gee aan die rooi VW Polo wat in die mielieland sowat ’n kilometer voor die Vandyksdrif-afrit staan nie, omdat die ongeluk gisteraand al gebeur het.
“Die boer het my vroeër vandag geskakel en gevra ek moet die voertuig kom verwyder.”
Hy was nog besig om die voertuig uit die mielieland te trek, toe die eienaar van die kar opdaag saam met ’n ander insleepdiens en het hulle die voertuig weg gesleep.
“Met ons aankoms gisteraand by die VW Polo was daar niemand en het ons net die bestuurder van die voertuig se bestuurderslisensie in die kar gekry. Al wat ons kon aflei, is dat die eienaar van die kar van Kabokweni afkomstig is.”
Geen ander voertuie was betrokke in die ongeluk nie en die bestuurder van die VW Polo het dit reeds aangemeld by die polisie.
• Twee mense is beseer in die ongeluk waar die Isuzu bakkie gerol het. Na wat verneem word was daar nege mense in die bakkie, vyf in die bakkie self en vier in die kappie. Die beseerders is per ambulans hospitaal toe geneem.

