News

Daar’s ’n gat in die pad en die karre ry daarom!

Twee gate, een weens ’n pyp wat kort-kort bars en die ander ’n gapende mangat, krap inwoners om.

In Middelburg sing ons die liedjie van die ‘gat in die grond en die groen gras groei daarom,’ so ietwat anders.

In ons dorp gaan die liedjie so: ‘daar’s ’n gat in die pad en al die motoriste ry daarom!’ (Daar is natuurlik ’n hele paar kraswoorde wat talle inwoners byvoeg as hulle daar verby ry, maar as ’n ordentlike gemeenskapblad, kan ons nie die woorde byvoeg wat al gebruik is nie).

Die reuse gat op die hoek van Lilian Ngoyi en Beyers Naudestraat, waar ’n waterpyp al talle kere gebars het, het almal warm onder die kraag.

Die oop mangat op die hoek van Lilian Ngoyi- en Njalastraat wat ’n gevaar inhou vir drawwers, kinders en honde.

Almal moet wyd óm die gat draai en alhoewel daar genoemsame waarskuwings is, het dit beslis ’n invloed op verkeer, veral in die middae as die skole uitkom. Boonop kla inwoners in daardie omgewing dat die gat nie net ’n probleem is nie, maar die pyp wat kort-kort bars hulle ook gereeld sonder ’n druppel water in hul krane laat.

Rdl. Johann Dyason sê hy het al talle kere navraag gedoen by die munisipaliteit oor wanneer dit reggemaak gaan word.

“Ek het dit gistermiddag wéér gerapporteer en is daar vir my gesê dat die munisipaliteit dit nie moet regmaak nie, maar ’n kontrakteur. Ek het gesê ek hoop die munisipaliteit sal toesien dat die kontrakteur dit doen. Ek sal dit sommer nou weer aanspreek!”

• Die probleem met ’n oop mangat op die hoek van Lilian Ngoyi- en Njalastraat (oorkant die koffiehuis) is ook onder die aandag van rdl. Dyason gebring.

Die mangat is blykbaar al ’n geruime tyd oop en inwoners wat met hul honde gaan stap, het gekla dat die gat baie diep is.

“Wanneer val daar ’n hond of ’n kind in daardie gat? In die aand sal jy nie dit gat sien nie!”

Die mangat se deksel lê reg langs die gat en het rdl. Dyason dit dadelik aan die munisipaliteit se toepaslike afdeling gerapporteer.

Die mangat is baie diep en ’n dier of kind sal ernstige beserings kan opdoen as hulle daarin val.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button