Video: Pasop vir reuse donga oor pad voor besigheid!
’n Massiewe gat het voor ’n besigheid gevorm weens water wat al etlike weke oor die pad spoel.

Middelburgers wat besighede besoek in Octoberstraat moet liewer in die veld om ry, na ’n donga gevorm het as gevolg van ’n brandkraanlyn wat lek.
Boonop borrel riool ook op ’n besigheidserf uit.
Mnr. Donvan Weber sê hulle het laat Desember begin agterkom dat daar riool uitstoot vanaf ’n rioollyn onder op die punt van hul besigheid in Octoberstraat. “Daar was nooit ’n probleem tot die rioollyn van die nuwe hospitaal ingesit is nie.” Die hospitaal is ’n entjie bokant dié area.

Hy vertel dat die brandkraanlyn ook lek en duisende liters water in die pad afloop, wat die donga in die pad gevorm het.

“’n Trok kan nog stadig deur die gat ry, maar ’n voertuig sal erge skade opdoen.” Hy het self geel gevaarversperrings in die pad opgesit, sodat voertuie aan die kant van die pad op die sypaadjie kan verbyry of omdraai.
“Van die trokdrywers vat egter die waarskuwingsbord weg, omdat dit moeilik is om daar om te draai. Met die water in die gat kan voertuie nie sien hoe diep die gat is nie en erge skade sal aangerig word as hulle daardeur ry.”

Aan die hand van ’n video het mnr. Weber met ’n vierwielaangedrewe bakkie deur die gat gery en kan ’n mens duidelik sien hoe diep dit is. Die video wys ook waar die riool en die water uitborrel.
Sedert 6 Januarie het hulle dié probleme al verskeie kere aangemeld en elke keer ’n verwysingsnommer gekry, maar tot vanoggend is daar nog nie begin met herstelwerk nie.
Rdl. Hennie Niemann sê die munisipaliteit is bewus van die probleem in Octoberstraat, maar kon die afgelope twee dae nie daaraan aandag gee nie, omdat Mhluzi en ’n gedeelte van Aerorand gister sonder water was. Die oorsaak van die probleme, was omdat kleppe gevandaliseer is.
Hy meld dat ’n kontrakteur nuwe rioollyne vir die nuwe hospitaal geïnstalleer het en moontlik die rioollyn na die genoemde area in Octoberstraat beskadig het.
“Die kontrakteur sal in kennis gestel word om dit reg te maak, andersins sal die munisipaliteit se water en riool-afdeling dit self doen en die geld van die kontrakteur verhaal.”
@middelburgobserver Motoriste gewaarsku – reuse donga in pad weens waterlek in Octoberstraat, Middelburg (Mpumalanga).