Willie oorlede na meer as jaar in hospitaal
’n Pullenshope inwoner wat vir meer as ’n jaar teen sepsis geveg het na ’n rugoperasie, het Donderdag gesterf.
Willie Boucher (61), is om 22:18 op 23 Januarie oorlede in ’n privaathospitaal in Pretoria, waar hy op 8 Augustus 2023 opgeneem is.
Die Middelburg Observer het verlede week berig oor Willie wat vir sy lewe veg nadat hy ’n rugoperasie ondergaan het.
Volgens Willie se vrou, Beatrice, het hy tydens die prosedure ’n massiewe beroerte gehad wat veroorsaak het dat sy longe platgeval het.
Willie is op ’n asemhalingsmasjien gesit, en is ook ’n voedingsbuis ingesit.
’n Maand later het sy buik egter erg begin swel in is bepaal dat die voedingsbuis sepsis veroorsaak het.
Willie moes verskeie operasies ondergaan om die sepsis skoon te maak, waarvan die mees onlangse prosedure verlede jaar in November gedoen is.
Hy was in die intensiewesorgeenheid tot met sy afsterwe.

Beatrice het vertel dat die finansiële impak van haar man se behandeling enorm is.
Al het Willie ’n mediesefonds gehad, moes Beatrice steeds duisende rande betaal aan bybetalings, en ook heen en weer ry om by haar man in die hospitaal te kon wees.
Beatrice het naderhand by haar dogter in Pretoria gaan bly om nader aan die hospitaal te wees, maar moes bydra tot twee huishoudings.
’n BackABuddy profiel is gestig om die gesin te ondersteun. Die profiel bly tans aktief om Beatrice te help met die hospitaalrekeninge.
Indien enigiemand finansieel wil bydra, kan die volgende skakel besoek word:
https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-willie-fight-for-his-life
• ’n Huldeblyk vir Willie sal in hierdie week se uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.
