Wielbende slaan weer toe
Die bende wat wiele steel het vanoggend vroeg weer by ’n huis in Mineralia toegeslaan.
Mnr. Jan Horn vermoed dat die bende vanoggend tussen 02:00 en 05:00 by sy huis in Jeppestraat toegeslaan het, waar hulle kon wegkom met al vier wiele van sy werksvoertuig.
“Ek het 02:00 wakker geword en rondgekyk, en alles was nog reg, maar toe ek 05:00 opstaan vir werk, toe sien ek die wiele is gesteel.”
Sy werksvoertuig is ’n Mahindra bakkie, en hy beraam die skade op R30 000, omdat die vellings en bande gesteel is.
Die diewe het die voertuig staan gemaak op plaveistene wat hulle uit die oprit verwyder het.
Volgens spore en merke teen die muur, het die verdagtes oor die muur tussen Horn en sy bure geklim.
“Ons sal maar in die toekoms almal lock nuts op ons bakkies moet sit. Dis al oplossing,” het Horn moedeloos gesê.
