‘Ek is self ’n pa…dit is erg,’ – ongelukkoördineerder oor busongeluk met kinders
’n Ongelukkoördineerder onthou die kinders se gehuil gisteroggend tydens ’n busongeluk.
Middelburger Louwtjie Swart het gister as deel van die Van Wettens-span hulp verleen op die toneel waar ’n bus omgeslaan het met 52 kinders.
Hy is ’n bekende ongelukkoõrdineerder in die hele streek en hou almal op hoogte van wat op die paaie gebeur met sy WhatsApp-groep, ‘Traffic Alert’.
Louwtjie meld dat die 22-sitplek bussie, waarin die 52 kinders was, by Tubelihle (Kriel) omgeslaan het, terwyl dit gedraai het.

Genadiglik is niemand dood nie, maar die meeste kinders het beserings gehad en moes per ambulanse na verskillende hospitale geneem word.
“Ambulanse van oraloor is gekry, van Middelburg, tot eMalahleni, Bethal en Secunda om die beseerde kinders aan te ry.”
Alhoewel hy al agt jaar by Van Wettens is, is dit vir hom steeds ontstellend om op tonele te kom waar veral kinders seergekry het. “Ek is self ’n pa, dit is erg.”

Dié ongeluk het hom onwillekeurig laat terugdink aan die ongeluk op 31 Julie 2024 waarin ses kinders van die Morelig School in ’n busongeluk gesterf het. Die bus was op pad na die Sikhululiwe Woongebied (ook bekend as Mafube woongebied) toe dit met ’n Transnet trein gebots het. Vyf kinders het op die toneel gesterf en deur die loop van die nag is nog ’n kind oorlede. Die oorledenes was Katlego Tshwarelo Majutla (14), Sibusiso Mokonene (16), Joseph Innocent Mabena (16), Nomfundo Alicia Sibanyoni (18), Sinenhlanhla Destiny Sibanyoni (17) en Dimpho Masina (16)
Dit was vir Louwtjie een van die ergste tonele wat hy nóg bygewoon het. Hy en talle noodspanne het tot laat daardie nag hulp op die toneel verleen.
Lees ook: Another death in schoolbus tragedy
