News

Grafiese inhoud: Beeste met spiese gesteek

Drie beeste moes geslag word nadat die diere met spiese aangeval is.

Wreedaards het beeste met spiese gesteek en een gelos dat hy met die spies in hom rondloop.

Mnr. Johan Immelman, van die plaas Geluk buite Machadodorp, vertel hoe die beeste se derms na buite gedruk het weens die spiessteke, maar dat die diere bly leef het.

Een van die beeste wat met ’n spies gesteek is. ’n Mens kan sien waar die binnegoed uitpeul.

Die een het nog met die spies in hom rondgeloop en het Johan die spies in hom gelos, om hulp te gaan kry. “Ek was bang as ek die spies uittrek, gaan hy hom doodbloei en het ek met hom veearts toe gejaag. By Rolling Hills het die spies egter uitgeval. Ek sal nooit die bees se gebrul van pyn vergeet nie.”

Die spies wat in die bees was.

Hy het gehoop dat hy die beeste sal kan red as hulle die derms terugdruk en die gate toemaak, maar die veearts het vir hom gesê dat hulle te lank reeds die wonde gehad het en infeksie sou intree, wat hulle in elk geval sou laat vrek. Mnr. Immelman moes dadelik met die Belfast Slagpale reël om die beeste te slag.

Mnr. Immelman sê hy is Vrydag in die vroeë oggendure deur een van sy wagte in kennis gestel  dat een van sy beeste beseer is. Hy bly op die buurplaas en het dadelik soontoe gegaan. Dit was donkermaan en met die flits kon hy net een beseerde bees sien.

Vroeg die volgende oggend het hulle die bees met die spies in sy sy gekry en Vrydagaand het hulle nog ’n bees gevind met ’n spiesgat in die ribbes, waar die derms uitpeul.

Hy meld dat spies geprakseer is uit ’n grassnyerlem en ’n gegalvaniseerde pyp. “Ons het ’n soortgelyke spies ook opgetel op die Machadodorp/Dullstroom grondpad.

Die spies wat op die Machadodorp/Dullstroom grondpad gevind is.

Nadat die beeste geslag is, kon ’n mens aan die karkasse sien watter skade die spiese aangerig het.

Die gat in die karkas wys waar die bees met die spies gesteek is.

Die Middelburg Veediefstal- en Bedreigde Spesie-eenheid ondersoek die saak. Enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagtes, kan adj. Stoney Steenkamp skakel by 082 303 9935.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button