News

Trokdrywer hou kop en jaag weg vir kapers wat op trok skiet

'n Trokdrywer het gisteroggend kop gehou en weg gejaag vir kapers wat teen die kant van die trok opgeklim en op hom geskiet het.

In ‘n koeëlreen deur kapers is ‘n vragmotor se vensters vol gate geskiet gisteroggend net buite Dullstroom.

Joernaliste uit Gauteng en inwoners van Dullstroom het die Middelburg Observer laat gisteraand gekontak en gevra of ons weet van die gebeure in dié skilderagtige toerismedorpie.

Uit inligting wat vanoggend ingewin is, word verneem dat die trokdrywer vanaf Lydenburg se kant af in die vroeë oggendure gery het in Dullstroom se rigting.

‘n Paar kilometer buite die dorp het hy moeg geword en besluit om ‘n rukkie te rus. Omstreeks 03:00 het hy klapgeluide gehoor en wakker geword. Hy het  dadelik gesien dat daar aan weerskante van sy vensters verdagtes is met wapens.

Die trok se vensters is vol gate geskiet, maar die trokdrywer het, na wat verneem word, gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.

Die trokdrywer het instinktief gereageer, die trok aangeskakel en begin ry, terwyl skote teen die vensters geklap het. Hy het aangehou ry tot in Dullstroom waar hy geruik het iets brand en by die ingang van die dorp die trok tot stilstand gebring het. Teen daardie tyd was die polisie reeds daar om hulp te verleen. (Dit is onduidelik of dit hyself was wat die polisie in kennis gestel het terwyl hy gery het).

Die trok waarop kapers geskiet het, het gisteroggend teen ligdag nog by die ingang van Dullstroom (vanaf Lydenburg se kant) gestaan. (Maatskappy se naam op trok is op versoek verwyder).

Die brandreuk het gekom vanaf een van die trok se sleepwawiele wat aan die brand geraak het.

Daar is gesê dat die trokdrywer klaarblyklik raakgeskiet is en per ambulans hospitaal toe geneem is. Hy het egter nie ernstige beserings opgedoen nie en is later die dag ontslaan. Daar is reëlings getref met die polisie dat hy hulle sou neem na die area waar die skietery plaasgevind het. Hy kon egter nie onthou presies waar hy gestop het nie.

  • Daar is navraag gedoen by die provinsiale mediakantoor rakende die gebeure. Brig. Donald Mdhluli het gesê sodra hy inligting ontvang rakende die insident, sal hy dit aan ons verskaf.

 

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button