Video: Man verstom toe luiperd voor hom oor pad loop naby Loskop Damwal
'n Besoeker aan die Loskopvallei was verstom toe 'n groot luiperd rustig voor hom oor die pad loop.


Zyl Janse van Rensburg was stomverbaas toe ‘n luiperd stadig voor hom oor die pad loop naby Loskop Damwal.
Hy vertel dat hy verlede naweek vanaf Witrivier na Forever Resorts Loskopdam toe is om vir ‘n klient van Johannesburg ‘n alluminiumboot te wys.
Opgewonde aan die hand van ‘n video, wat hyself ook op Tik Tok gedeel het (en 83 000 keer gesien is) het hy vertel van die luiperd.
Hy het tuisgegaan by die oord en besluit om gou Damwal Slaghuis toe te ry.
Reg oorkant die eerste Mossienesbord, net na Loskop Damwal, het hy byna sy voertuig omgegooi toe hy die luiperd sien wat stadig oor die pad loop. Dit was omstreeks 09:30.
Hy het sy selfoon gegryp om ‘n video en foto’s te probeer neem, maar kat se kind het nie stilgestaan vir foto’s nie.
Zyl het langs die pad gestop en wou aanvanklik uitklim om bietjie beter deur die bosse te sien, maar het homself dadelik bedink en moes maar tevrede wees om te sien hoe die luiperd die bos in verdwyn.
“Daardie luiperd was nie wild nie, hy het rustig oor die pad geloop! Sy stert was so mooi gekrul.”
Hy het later met iemand gepraat wat in die omgewing ‘n besigheid bedryf, wat hom vertel het van die krokodille in die rivier.
Daar is gesê dat daar in die afgelope jaar sowat sewe honde in die omgewing verdwyn het, wat moontlik gevang is deur die krokodille. “Ek het net daar besef dit is nie die krokodille wat die honde gevang het nie, maar die luiperd! In Hoedspruit en Phalaborwa se wêreld is luiperds bekend daarvoor dat hulle die honde so vang.”
Zyl het goedgunstiglik sy video en foto’s beskikbaar gestel vir publikasie.
@middelburgobserver Luiperd loop voor voertuig verby net na Loskop Damwal. Video en foto’s geneem deur Zyl Janse van Rensburg.