Video: Vrou sterf, kinders beseer in ongeluk by weegbrug
Een persoon is dood en twee kinders beseer in 'n ongeluk op die Stoffbergpad.

‘n Kind se hartverskeurende gehuil het noodpersoneel vanoggend (Sondag, 9 Februarie) begroet op ‘n ongelukstoneel waar ‘n vrou gesterf het.
Twee kinders en twee vroue is ook beseer in die ongeluk op die R555 (Stoffbergpad).
Die ongeluk het omstreeks 09:30 plaasgevind by die Wonderhoek Verkeerbeheer (weegbrug) net buite Middelburg.
‘n Provinsiale verkeerbeheer voertuig, asook ‘n Toyota Condor was in die ongeluk betrokke. Een persoon was in die provinsiale voertuig en sewe mense in die Condor. Die vrou wat gesterf het, was ‘n passasier in die Condor.

Die kinders en vroue is per ambulans hospitaal toe geneem. Die twee mans, wat ook in die Condor was, het ligte beserings opgedoen.
Die bestuurder van die provinsiale voertuig het nie beserings opgedoen nie.
‘n Seuntjie, wat die hele tyd gesnik het, het een van die ouer vroue opgehelp en ondersteun tot die noodpersoneel daar was om by hom oor te neem.

Die besondere empatie wat die polisielede, verkeersbeamptes en paramedikuste met almal op die toneel gehad het, was ongelooflik. Van die polisielede het selfs van die beseerde vroue en kinders tot by die ambulans gehelp en hulle getroos.


@middelburgobserver Woman dies, children injured in accident on R555, Stoffberg road this morning (February 9). Police, paramedics display heartwarming compassion on scene. Read more on the Middelburg Observer website.