News

Water vir ses dae aan en af – Belfast inwoners hoop nou vir die beste

Die verhouding tussen Belfast inwoners en die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit versleg by die dag met groot gedeeltes van die dorp wat vir ses dae sporadies nie water gehad het nie.

Dit volg net ’n paar weke nadat almal se kragmeters ook geblok is.

’n Inwoner van Uitbreiding 2, wat versoek om anoniem te bly, het gefrustreerd aan die Middelburg Observer gesê dat dit gister dag ses sonder water vir hulle was.

Die eenvoudige luuksheid van hande was, toilet spoel, of ’n warm stort was daar eenvoudig nie. Boonop word dié wat kla, se boodskappe summier van die gemeenskap WhatsApp groepe uitgevee.

“Hulle (die munisipaliteit) het elke keer ’n ander verskoning. Dan is dit ’n ondergrondse kabel wat gebreek het, dan is dit ’n pypbars, dan is daar nie diesel vir die kragopwekker nie. Hulle lieg oor die oorsaak en as ’n mens op hulle tone trap word jou boodskappe van die groep afgehaal!” het die inwoner moedeloos gesê.

Mnr. Eugene Schemper het die waterprobleme bevestig, en het gesê dat dit veral in die onderdorp, en uitbreidings 2 en 3 nog steeds ’n groot probleem is.

“Daar is altyd ’n storie en die mense raak gatvol, want hulle stories stem nie ooreen nie! Hulle lieg so, dat hulle nie eers kan kophou wat daar voorheen vir inwoners gesê is nie.”

Mnr. Schemper het bygevoeg dat wateronderbrekings wel ’n gereelde probleem is, maar ook nie ál probleem is nie.

“As dit nie water is nie, dan is dit krag. Die munisipaliteit is vinnig om almal se kragmeters te blok omdat hulle betaling soek, maar dan ontvang ons nie die dienste waarvoor ons betaal nie!”

Volgens Schemper lê die probleem egter nie by die werkers nie, maar by die bestuur van die munisipaliteit.

“Die werkers wat oor naweke op bystand is moet groot gedeeltes dek, wat die nedersettings, Machadodorp en Dullstroom insluit. Dit is onredelik om te verwag dat een mens die hele area kan dek,” het mnr Schemper afgesluit.

Volgens DA Raadslid, Danie Janse van Rensburg, is die waterprobleem tans opgelos, en hopenlik sal dit minder van ’n probleem wees.

Janse van Rensburg het verduidelik dat die onderbrekings veroorsaak is deur ’n ondergrondse kabel wat krag voorsien aan ’n waterpomp by die reservoirs.

“Die kabel breek op ’n gereelde basis. Daar is besluit om die kabel oop te grou en oor te slaan na ’n oorhoofse kabel. Dit het natuurlik ’n bietjie langer gevat om op te los omdat die kabel eers opgegrawe moes word, en omdat pale geplant moes word.”

Hy het egter gesê dat die dorp nie vir ses dae aaneen sonder water was nie, en ook dat die hele dorp nie daardeur geraak is nie.

“Ek self bly in die onderdorp, en ja ons was sporadies sonder water gelaat. Die hoogliggende areas was die meeste geaffekteer, en hulle water is eerste af, en kom laaste aan. Ek het wel gister en vandag geen klagtes ontvang nie.”

Volgens Janse van Rensburg sal die oorhoofse kabel help om wateronderbrekings te verminder.

“Pypbarste is ook ’n probleem in die onderdorp, omdat die pype oud is. Dit gebeur ook dat die PVC pype wat in die onderdorp gelê is, soms stukkend gery word, omdat die onderdorp uit grondpaaie bestaan. Veral as die reën die grond wegspoel. Maar dit was maande laas ’n probleem. Grond is gegooi en die pad is mooi geskraap,” het Janse van Rensburg afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button