News

Bekende sersant-majoor en rugbylegende sterf aan hart

Bekende oud-weermaglid en rugbyskeidsregter en -afrigter, Isaac Walters (65), het verlede week weens ’n hartaanval gesterf.

Isaac Walters, of Wally soos almal hom geken het, is op 4 Februarie oorlede in die eMalahleni Privaat Hospitaal waar hy vir meer as drie weke behandeling vir sy hart gekry het.

Volgens sy eggenoot van 36 jaar, Christa, het Wally se loopbaan in die Suid-Afrikaanse weermag begin toe hy sy opleiding by die Kaapse Regiment gedoen het.

Daarna is hy verskeie kere verplaas, eers na die 9SAI bataljon, toe die 2SAI bataljon in Pomfret, waarna hy in 1997 na die 4SAI bataljon in Middelburg verplaas is.

Wally het in 1999 as sersant-majoor van die Staande Mag op Middelburg afgetree, waarna hy by die Middelburg Rugbyklub aangesluit het as afrigter en spanbestuurder.

In daardie tydperk het Wally as afrigter ’n spesiale toekenning ontvang en ook die Swartes se oorwinning van die Presidentsliga oorsien.

Wally in sy weermaguniform.

Wally het in 2000 by die Pumas se provinsiale rugbyspan aangesluit as spanbestuurder en tegniese ontleder.
Hy het homself opgewerk na ’n vlak 3 skeidsregter en het later by die Pumas as assessor van skeidsregters gedien.

In 2008 het hy by die reserwemag aangesluit waar hy betrokke was tot en met sy aftrede in 2024.

Wally word onthou as ’n man wat op ’n besondere manier vir sy gesin gesorg het en wat sy gemeenskap gedien het.

“Hy het nooit geraas, sy stem verhef of gevloek en geskel nie,” het sy dogter Lauren onthou.

“Hy was ’n man van orde, en almal – veral kinders, het na hom opgekyk omdat hy almal met respek behandel het,” het Christa gedeel.

Wally word oorleef deur Christa, sy kinders, Shaun en Lauren, sy moeder, Jane, susters Margareth, Serina en Denise, broers John, Joseph en Reggie, en kleinkinders Alonzo, Madison en Declan.

’n Roudiens sal Saterdag om 10:00 by die VGK Nasaret gemeente plaasvind. Begrafnisgangers kan om 09:00 by die Walters se huis by 69 Proteastraat (Kanonkop) bymekaarkom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button