Tereza het altyd ’n oop hand vir armes gehad
Tereza Myburgh (69), die vrou wat vir lank Weltevrede Handel op die Stoffbergpad bedryf het, is rustig by haar kinders in Kanada oorlede.

Haar dogter, Nicolene Wildervanck, vertel dat haar ouers, Gert en Tereza, sedert 2020 permanente verblyfreg het in Kanada.
Na ’n verlengde kuier van twee jaar in Suid-Afrika, het haar ma op 10 Januarie 2025 teruggekeer.
“Sy het die voorafgaande maande gesukkel met haar gesondheid en is die week na haar terugkoms met terminale kanker gediagnoseer. Sy is twee weke later, op 30 Januarie, oorlede. Ons het haar hier in my huis versorg tot die einde.”
Die begrafnis was op 4 Februarie in Chilliwack, BC, Kanada.
Gert en Tereza het in 1980 ’n klein deel van die Weltevrede plaas gekoop en die algemene handelaar, Weltevrede Handel, bedryf. In 2006 het hulle na Kleinfontein verhuis.
“My ma was ’n besonderse mens. Ten spyte van haar eie swaarkry het sy altyd ’n oop hand vir armes en agtergeblewenis gehad. Orals waar sy gegaan het, het sy die eensames en verstotelinge gehelp.”
Die gesin onthou haar ook as ’n hardwerkende en nederige vrou. “Niks het vir haar hande verkeerd gestaan nie. Haar werk was altyd haar trots. Later het haar lewe rondom haar kleinkinders gedraai. My kinders sal haar as ‘n cool ouma beskryf. Sy was sterk in haar geloof en het die wil van die Here aanvaar toe die dokter se sy het twee weke, miskien ’n maand of wat, oor om te leef. Op haar sterfbed het sy telkemale vertel van die Here se vrede in haar hart.”
Tereza word oorleef deur haar man, Gert (wat ook nou in Kanada is), en kinders:
In Kanada: Alexander en Nicolene Wildervanck, kleinkinders Erika, Bianca, Emma en Frits.
In Engeland: Lee en Marta Myburgh, kleinkinders Zak en Max.
In VSA, Andries en Jodi Myburgh en kleinkinders Damion en Elaina.