Slagoffer van Bethalpad ongeluk is geliefde gastehuis eienaar van Koornfontein
Hy kon altyd kragprobleme in japtrap oplos vir gemeenskap sê raadslid
’n Groot boom het in die Koornfontein gemeenskap geval.
Daar is bevestig dat die slagoffer van vanoggend se dodelike ongeluk tussen ’n bakkie en trok op die Bethalpad die geliefde Koornfontein gastehuis eienaar Fanie Grobler is.
Hy was die eienaar van Fanie’s Guest House.
Mnr. Grobler is opslag dood in die botsing met ’n trok sowat 10km uit op die Bethalpad.
Die ongeluk het net na 11:00 gebeur.
Medeleie stroom tans in vir die Groblers op sosiale media waar hy beskryf is as ’n steunpilaar.
DA raadslid Stephan Smith het vir die Middelburg Observer gesê dat mnr. Grobler altyd sy wye netwerk kontakte by Eskom ingespan het om kragonderbrekings en kabeldiefstalle in Koornfontein aan te spreek.
“Hy was ’n geliefde inwoner en ons gaan hom baie mis,” sê Smith.
Hy laat sy vrou, seun en dogter agter, insluitende uitgebreide familie.
