News

Vrou wat gif ingekry en in veld by Dennesig dammetjies gekry is, praat

Die vrou wat by die Dennesig dammetjies inmekaar gesak het nadat sy gif ingekry het, het vertel wat aanleiding gegee het tot die gebeure.

Die vrou wat verlede week gif ingekry en in die veld by die Dennesig dammetjies gekry is, het openhartig met Middelburg Observer gepraat.
Sy het haar worstelinge gedeel en bevestig dat sy haar eie lewe wou beӫindig.

In teenstryd met gerugte, wou sy dit duidelik maak dat niemand haar probeer vermoor of gedwing het om die gif te eet of te drink nie.

Op voorwaarde dat haar naam weerhou word, het sy die redes vir haar poging gedeel.

Die gebeure sentreer rondom die feit dat sy nie toegang het tot haar minderjarige kind* nie. Dit, vertel sy, was die rede waarom sy heroïne begin gebruik het.

Sy was verlede jaar in ’n Gautengse rehabilitasiesentrum toe die goeie nuus per boodskap kom: sy kon haar kind gaan haal. Die vrou het haarself dadelik ontslaan en haar kind gaan haal.

Haar vreugde is egter kortgeknip toe owerhede haar kind van haar af moes wegneem. “Dit het my verwoes,” sê sy.

Terwyl sy haar hartseer gedeel het, het sy nie bevestig of sy steeds aan dwelms verslaaf is en of sy hulp kry teen verslawing nie.

Die vrou vertel dat sy die plastiekbakkie, waarin die dodelike gif, Temik, was, verlede Dinsdag gevat het en ’n piesang daarin gedruk en geëet het. “Ek het op die sypaadjie gaan sit en wou die laaste gif in my mond gooi, toe hy (haar vriend) die houer uit my hand klap.”

Sy onthou dat die gif binne ’n minuut en ‘n half begin werk het. “Skuim het by my mond uitgekom en ek was oombliklik paralysed.”

Volgens haar het haar lewensmaat op haar geskree om haar te probeer wakker hou en het ook vir hulp geroep.

“Ek was reeds koud toe die ambulansmanne my kry en ek het in ongevalle bygekom.” Sy noem dat daar drie keer vir haar lewe geveg is. Sy was vir twee dae in die hoësorgeenheid en vandaar vir twee dae in ’n gewone saal, waarna sy Dinsdag ontslaan is.

“Ek het heroïne nie gebruik vir die high nie. Ek wou afkom. Ek het soms een gebruik om nie so sleg te voel nie, nie almal sal verstaan nie.”

Haar planne is om nou vorentoe te kyk en ’n werk te kry. “Ek is egter op ’n emosionele rollercoaster. My mentaliteit is opgevoeter. My hart is seer.”

• Enigeen wat depressie ervaar of gedagtes oor selfdood het, kan die Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep skakel vir hulp. Hul 24-uur tolvrye kontaknommer is 0800 567 567.

• Alle detail oor die kind (soos die geslag en ouderdom) word op regsadvies weerhou.

• ’n Inwoner het gehoor hoe die man skree en op nood WhatsApp-groepe vir hulp gevra. Die ambulansdienste is gekontak en lede van die groepe het by die vrou gebly totdat sy gestabiliseer en met die ambulans weggeneem is.

• Die gif was in ’n kluis in die huis waar die vrou tans by ’n ouer man loseer. Dit is onseker hoe sy dit in die hande gekry het.
Haar kêrel het dit glo lank terug vir die man gegee om in sy kluis te bêre, maar het nooit gesê waar dit vandaan kom nie.
“Ek het dit in die kluis gesit, omdat dit so ’n dodelike gif is en ek nie geweet het wat om daarmee te maak nie,” sê die ouer man (wat anoniem wil bly).

• Temik, ook bekend as Two Step gif (weens die vinnige werking daarvan) is in bykans ál die hondevergiftings in Middelburg gebruik. Kort na die vergiftigings volg daar gewoonlik ’n diefstal van ’n motorfiets of ’n inbraak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button