Die 21-jarige het wonderbaarlik oorleef nadat hy op 15 Januarie ’n elektriese skok van 11 000V opgedoen het toe hy besig was om sonpanele op ’n plaashuis se dak te installeer.
Hy is geskok nadat ’n reëling wat hy op die dak wou vasheg, kontak met ’n hoëspanning Eskom kabel gemaak het.
Christiaan moes meer as twee ure lank wag op ’n ambulans weens die plaas se landelike ligging.
Toe ambulanspersoneel opdaag, moes twee van sy kollegas hom van die dak af tel, omdat die nooddienste nie die nodige toerusting gehad het nie.
Hy is Life Midmed Hospitaal toe gejaag, vanwaar hy na Alberton gevlieg is, en steeds behandel word.
Hy het reeds veloorplanting ondergaan op sy arms en een been, nadat sy linkerbeen onder die knie afgesit is.
Hy het ook al die tone op sy regtervoet verloor.
Christiaan het egter reeds so wonderbaarlik herstel dat sy ma Linda sê hy dalk teen volgende week reeds na ’n rehabilitasiesentrum geskuif sal word.
Daar sal hy weer moet leer loop.
Daar is reeds passings gedoen vir prosteses op sy linkerbeen en regtervoet.
Sedert sy opname was hy ook al reeds meer as 13 keer in die teater.
Die amputasiewond aan sy been is eers dié week geheg, nadat dokters moes wag om te kyk vir verdere weefsel- en spierskade.
Dokters is nietemin tevrede met sy vordering, en nog goeie nuus is dat sy liggaam die veloorplantings ook aanvaar het.
Hy vier in Maartmaand sy 22ste verjaardag en hoop om dan tuis te wees, om op te maak aan sy verloofde, omdat hy Valentynsdag saam met haar gemis het.
Tydens sy laaste teaterbesoek het Christiaan speels gesê ‘dertiende keer gelukkig!’ en sy woorde het beslis krag gedra.
Linda sê dat hulle steeds fondse insamel vir Christiaan se lang pad na volle herstel.
Inwoners wat bydraes wil maak, kan Linda skakel by 079 862 9943.
