News

Morkerlstraat gesin herwin gesteelde eiendom uit verskeie buurerwe

Kriminele kruip weer uit gate weens beurtkrag

’n Gesin in Morkelstraat het gister ’n nare ontnugtering gehad toe hulle later Sondag gesien het dat daar net voor sonop in hul motorhuis ingebreek is.

Marizelle Strumpher sê dat hulle eers later die dag, toe haar man batterye vir beurtkrag wou laai, gesien het dat die motorhuis oopgebreek is.

Die motorhuisdeur was glo met ’n klein oondjie oopgehou vir die boef om in en uit te beweeg met gereedskap.

Die buurman oorkant die Strumphers kon later op CCTV kameras sien hoe ’n donker figuur rondom 04:50 die oggend, buit uit die motorhuis oor die muur laai, en dan weer terug sluip na die motorhuis om meer te steel.

Weens beurtkrag het die Strumphers se alarmsisteem nie gewerk nie.

Sondagmiddag het bure in Morkelstraat op die straat se WhatsApp-groep laat weet dat daar ’n vreemde kruiwa in sy erf gevind is.

Dit is toe uitgeken as die Strumphers se kruiwa.

Die buurman het inwoners ook ingelig dat daar vroeër by die buurman agter hom se Wendy-huis ingebreek is.

Met verdere ondersoek in die straat het die Strumphers ’n verdagte sak onder ’n boom gewaar en op die gesteelde gereedskap uit hul motorhuis afgekom.

Hulle het ook gedurende Sondag hul drukwasser op ’n muur in hul agterplaas gekry.

Daar is vasgestel dat die buurman agter hulle die drukwasser in sy erf opgetel en toe net op die muur gesit het waar die Strumphers dit kon herwin.

Marizelle sê dat dit blyk of hulle al hul gesteelde goedere kon herwin.

Sy sê dat die inbreker wel opgemerk is deur bure wat hom gejaag het.

Die buurman op die boef se spoor het egter geval, wat die inbreker die geleentheid gebied het om te vlug, sonder sy buit.

“Dis duidelik dat die meneer sy rondtes gemaak het, te oordeel aan die aantal erwe waar van ons gesteelde goed gevind is,” sê Marizelle.

Daar is ook intussen weer verskeie gesteelde watermeters in die dorp aangemeld.

Marizelle sê dat dit duidelik is dat beurtkrag weer die deur oopmaak vir kriminele om rond te sluip.

“Inwoners moet paraat wees,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Matt Handley

Matthew Handley has been working as a journalist and photographer at the Middelburg Observer since December 2022. Matthew was honoured with the Alet Roux Award for Best Young Journalist by the FCJ in 2023. As a community journalist, Matthew covers a diverse variety of topics, with an unwavering adoration for Middelburg.
Back to top button