Vermeende dief wat pastoor se kar steel op kamera vasgevang
’n Dief is op CCTV kameras vasgevang waar hy gisteraand ’n pastoor se kar uit ’n hospitaalparkeerarea gesteel het.
’n Pastoor van Middelburg se Fortuner is gisteraand net na 18:00 uit die parkeerarea van die Kosmos Hospitaal gesteel.
Pastoor Freddie van der Merwe (van The Light Ministries gemeente), het me. Gerda Ludeke vanaf Middelburg hospitaal toe geneem om vir haar man, Willie, wat vir ’n besering behandel word, te gaan kuier.
Me. Ludeke sê hulle was net na 13:00 by die hospitaal en het die res van die dag daar deurgebring tot na aandbesoek. Die oomblik toe hulle uitkom, het hulle dadelik gesien dat past. Van der Merwe se voertuig gesteel is.

Deur middel van CCTV materiaal, is gesien hoe ’n man om 18:06 met die Fortuner by die parkering uitry.
“Dit is nie net die verlies van die voertuig nie, dit is ook die goed in die voertuig, soos ons huissleutels en my beursie met al die kaarte.” Wat hom die meeste omkrap is die Bybels in die voertuig wat hy as geskenke gekry het.
Dit is ’n wit Fortuner (2016 model) 2.8GD6, registrasienommer JZW 561 MP. ’n Plakker met The Light Ministries se naam daarop, is agterop die voertuig sigbaar.

As enigiemand die voertuig opmerk, skakel pastoor Van der Merwe by 082 878 1491.
