Motorfietsryer beseer in vroegoggend ongeluk
’n Motorfietsryer kan homself gelukkig ag dat hy nie ernstiger beserings opgedoen het nie, na botsing vanoggend in Meyerstraat by die Brugstraat indraai.
’n Motorfietsryer het vanoggend ’n skouerbesering opgedoen na ’n botsing met ’n ADT voertuig.
Daar is op die toneel gesê dat ’n paar voertuie, wat van Kanonkop se rigting gekom het, se flikkerligte aan was om links te draai vanaf Meyer- na Brugstraat.
Die ADT voertuig het uit Brugstraat gedraai in Meyerstaat in, waar die motorfiets, wat reguit aan wou ry stasie se rigting toe, die voertuig op die deur getref het. Daar is op die toneel gehoor hoe daar gesê word dat die bestuurder van die voertuig nie die motorfiets agter die ander voertuie gesien het nie.
Omstanders het gesê dat die motorfiets gelukkig baie stadig beweeg het, anders sou die motorfietsryer, Wessie Victor, baie ernstiger beserings opgedoen het.

ER24 Ambulansdienste was binne minute op die toneel en is Wessie per ambulans hospitaal toe geneem.
Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum, Sektor 1, het die druk verkeer gereguleer totdat die toneel opgeruim is.
