Dorp se ‘oom Jan’ gegroet na beroerte op amper 84-jaar
As hy begin het met ’n storie, het jy tjoepstil gesit en luister to die einde...
Een van Middelburg se groot legendes, oud-landdros Jan Engelbrecht, is Saterdag in Life Midmed Hospitaal oorlede nadat hy Donderdag daar opgeneem is met wat dokters gedink het galstene is.
Sedert die hartseer nuus kort na sy afsterwe op erfenisgroepe gedeel is, stroom medelye vir die ontslape oud regsman in.
Een van sy goeie vriende en medelid van Middelburg Erfenis, Rudi van Wyk, het na sy afterwe hulde gebring aan ’n besadigde man wat diep spore in die geskiedenis van Middelburg getrap het.
Nie net was hy een van die dorp se mees gerespekteerde landdroste nie, maar hy sal ook onthou word vir sy vurige passie rondom die dorp se geskiedenis en erfenisse.
Hy het ‘oom Jan’ soos dorpenaars hom geken het, as mentor beskryf.

In ’n huldeblyk op Middelburg Erfenis het hy geskryf dat as landdros, mnr. Engelbrecht streng maar regverdig was.
Hy was veral geliefd in justisiekringe in Breyten, Lydenburg, Carolina, Hendrina en Middelburg.
Mnr. Engelbrecht was een van Middelburg Erfenis se stigterslede en het verskeie plaaslike aksies gedryf om plaaslike erfenisse vir die dorp se nageslagte te bewaar.
Een van die plekke waaroor sy hart veral gebloei het is die historiese Anglo-Boereoorlog konsentrasiekamp begraafplaas in Kareelaan in Kanonkop.
Van Wyk sê dat sy droë en fyn sin vir humor, by Middelburg Erfenis vergaderings en byeenkomste gemis sal word.
Maak nie saak aan watter kant van die gereg jy gestaan het nie, hy was altyd respekvol teenoor almal, sê Van Wyk.
Ten spyte van gesondheidsprobleme, was mnr. Engelbrecht se geheue kristalhelder, tot en met sy dood.
Na sy opname in Life Midmed verlede week, het hy beterskap getoon, sê sy seun André.
Ongelukkig het hospitaalpersoneel hulle Saterdag kort voor 15:00 ingelig dat hy ’n reuse beroerte in sy hospitaalbed gehad het.
Hy is omstreeks 20:00 oorlede.
Hy sou op 27 Augustus sy 84-ste verjaardag vier.
