Daar woed weer ’n storm by die Middelburg asgate met vullisverwyderaars wat sê “daar’s ’n nuwe besem wat die terrein blykbaar so skoon wil vee, hy wil selfs die munisipaliteit se inkomste uitwis.”
Vullisverwyderingsbesighede vrees nou weer dat hulle besighede kan knak, indien die ‘nuwe kontrakteur’ wat nou daar aangestel is, nie die koepon-sisteem wat nog altyd in plek was, voortsit soos sy voorganger nie.
Besighede sê dat daar in die verlede net een koepon gevra is vir ’n vrag vullis, ongeag die massa.
Bourommel is gratis afgelaai.
Die nuwe kontrakteur dring egter nou op ’n koepon per ton aan, en bourommel mag nou ook nie verniet meer afgelaai word nie.
Koeponne, wat in boekies by die munisipaliteit aangekoop word, werk op ongeveer R78 per koepon uit.

Vullisverwyderaars is Dinsdag van die veranderinge ingelig.
Hulle kla egter dat masjienerie nie werk nie, insluitende die skaal om vragte te weeg.
Die skaal werk volgens klaers al meer as ses maande glad nie.
Die week moes verskeie voertuie weer uit die modder gesleep word nadat hulle vasgeval het.
Een van die besigheidseienaars sê verder dat hy dié jaar al ses bande verloor het omdat die terrein nie in stand gehou word nie.
Klaers se name word nie genoem nie, uit vrees vir verdere vergelding.
• Dit is nie die eerste maal wat vullisverwyderaars in opstand teen die munisipaliteit gekom het nie.
Tydens hul vorige stryd oor die toestand van die terrein, nadat ’n persoon op die terrein dood is toe hy in ’n munisipale vullistrok geval het, is daar gehoor gegee aan die klagtes.
Die terrein is egter daagliks steeds vol mense wat na bruikbare vullis soek om te aas.
Hulle mag egter nie op die terrein wees nie.
Besighede dring nou weer aan op ingryping, hoewel hulle sê hul klagtes tot dusver geïgnoreer is.
Navrae is aan die munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd was daar geen antwoorde verskaf nie.
Die kontrakteur kon nie bereik word vir kommentaar nie.
