Lemloper stap 21km vir katte
Middelburg se eie lemloper het ’n hart vir diere en gaan 21km loop vir katte!
Etta Vosges, ons dorp se eie lemloper, sal op 26 April die Wild Challenge aandurf ten bate van ons dorp se katte!
“Ek het besluit om vanjaar die uitdaging aan te pak en ook sommer ’n organisasie te ondersteun.” Vosges is ’n groot diereliefhebber en sal die 21km stap vir Feral Care Friends, Middelburg.
Wat hierdie uitdaging so besonder maak, is dat Vosges dit aanpak met ’n prostese. Vosges het die prostese sedert 1989 nadat sy haar been in ’n motorfietsongeluk verloor het.

“Ek kry dalk voor die Loskop my nuwe lem en ek glo dit sal die uitdaging baie makliker maak,” sê sy opgewonde.
Vosges het ’n paar jaar gelede die 15km Treinwedloop ook ten bate van ’n organisasie voltooi. Sy was vir 13 jaar betrokke by die CMR se kleuterskool, Saailand, en het sy dit daardie jaar vir die kleuterskool gedoen en ’n goue medalje ontvang. Verlede jaar het sy die 10km wedloop by die Treinwedloop vanaf die Middelburg Stasie voltooi.
Boonop is Vosges welbekend by die parkrun, waar sy in totaal al 322 voltooi het. Dit beteken sy het al 1 610km by die parkrun gestap!
Vosges se man, Douw en vriendinne Elsie Versfeld en Marie Kruger gaan die Wild Challenge saam met haar aanpak vir ondersteuning op die pad.


Hulle oefen reeds hard met 12km se stap op Maandae, Woensdae en Vrydae, Donderdae 5km en Saterdae die parkrun se 5km.
Persone of sakelui wat Feral Care Friends wil ondersteun, kan Vosges per kilometer borg of ’n eenmalige donasie maak.
Stuur ’n WhatsApp na 065 582 2860 met jou naam, van en die bedrag wat jy per kilometer wil borg of as donasie wil gee.
Die hele gemeenskap word uitgedaag om Vosges te ondersteun en met elke tree hoop te bring vir Middelburg se katte.
