News

M’langa begroting: ANC se plan om werkloosheid hok te slaan onbereikbaar sê VF+

Provinsiale begorting onder VF+ vergrootglas

Die beloftes wat Mpumalanga se LUR vir finansies, mnr. Bonakele Majuba, in sy begrotingsrede vir die 2025/26-finansiële jaar maak is onuitvoerbaar weens die ANC-regering se gefaalde beleidsrigtings.

 

Hierdie beleidsrigtings sluit veral regstellende aksie (RA) in. Die ANC het boonop geen vermoë om korrupsie en wanbestuur in die provinsie hok te slaan nie.

 

Weens finansiële druk sal die regering sekere toekennings vanuit die totale bedrag van R66.2 miljard moet heroorweeg. Te veel fondse word steeds bestee aan onvoltooide projekte soos die Mpumalanga-internasionale-varsproduktemark en prestasiesentrum, wat jare reeds sloer.

 

Mnr. Majuba stel in sy mediumtermyn-ontwikkelingsplan (MTOP) ‘n provinsiale werkloosheidsyfer-teiken van 25%. Om dit te bereik moet die provinsie vir die volgende vyf jaar jaarliks tussen 50 000 en 60 000 nuwe en volhoubare werkgeleenthede skep.

 

Met die huidige provinsiale werkloosheidsyfer van 34,7% blyk bogenoemde ‘n onbereikbare doelwit te wees aangesien geen plan op die tafel geplaas is oor hoe dit behaal gaan word nie.

 

Die 2025-nasionale fiskale raamwerk bewillig vanjaar R369,7 miljoen en R1,2 miljard oor die mediumtermyn-uitgaweraamwerk vir die provinsie.

 

‘n Verdere R31 miljoen, wat in die 2024/25-boekjaar as onbestee verklaar is, is hertoegewys aan die departemente van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake en gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling.

 

Binne die basislyn van Mpumalanga se toerisme- en parke-agentskap (MTPA) word R111,6 miljoen voorsien vir die instandhouding van natuurreservate, en R118 miljoen vir toerisme-ontwikkeling en bemarkingsinisiatiewe.

 

Die VF Plus verwelkom bogenoemde aangesien toerisme die hart van die provinsie is. Plaaslike natuurreservate is in ‘n haglike toestand en wildstroping en -diefstal vier hoogty.

 

Die bewilliging van ‘n verdere R81 miljoen vir die omstrede prestasiesentrum in Belfast is onaanvaarbaar vir ‘n projek wat sedert 2011 nog geen groei gesien het nie.

 

Daar is reeds meer as R300 miljoen hieraan bestee met geen ontwikkeling of bouwerk nie.

 

Daar moet eerder meer fondse aan ekonomiese noodsaaklikhede soos infrastruktuurontwikkeling toegewys word vir ekonomiese groei, werkskepping deur die privaat sektor en die uitroei van armoede.

 

Die provinsie het dienslewering nodig; dit benodig die voltooiing van huidige projekte. Die VF Plus verwerp daarom die toekenning van R175 miljoen vir die bou van ‘n veeldoelige arena met 5 000 sitplekke in die Mbombela Stadion-gebied.

 

Die gesloer met uitstaande projekte lei jaarliks tot wanbesteding van die provinsiale begroting.

 

Die premier, mnr. Mandla Ndlovu, moet nou leierskap toon om die potensiaal van Mpumalanga prakties te ontgin tot voordeel van sy inwoners.

 

Die VF Plus sal die begrotingsbesteding fyn dophou om ʼn verdere vermorsing van fondse te probeer voorkom.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Matt Handley

Matthew Handley has been working as a journalist and photographer at the Middelburg Observer since December 2022. Matthew was honoured with the Alet Roux Award for Best Young Journalist by the FCJ in 2023. As a community journalist, Matthew covers a diverse variety of topics, with an unwavering adoration for Middelburg.
Check Also
Close
Back to top button