Die KleuterZone drama het ook na Middelburg uitgekring, met die huidige kontrakhouers, Johan en Annika Strydom, wat die skool se naam na Kinderland verander het.
Strydom sê dat hy die KleuterZone kontrak in Julie 2023 geteken het. Weens ’n rompslomp deur KleuterZone met die kies van ’n perseel, het hy self in Oktober deurgery Middelburg toe waar hy die Gholfsig eiendom gekoop het.
KleuterZone moes huur op die perseel betaal het totdat die kontrak gelyk sou breek. Tussen drie en ses maande is voorgehou as gepaste tyd vir die kleuterskool om gelyk te breek met vestigingskostes.
Meer as ’n jaar later, het die Strydoms nog nie gelyk gebreek nie.
Die bal is reeds deur die Strydoms se regsverteenwoordigers aan die rol gesit om die kontrak met KleuterZone gekanselleer te kry.
Die Strydoms, van Klerksdorp, wou die skool op die been bring vir Johan se ma wat ’n gekwalifiseerde onderwyseres is.
Hy sê dat KleuterZone eienaar, Anthonie Bougas, aanvanklik wou hê dat hy aandele in ’n Heidelbergse skool ook koop, maar weens ’n gesloer met versoekte beleggingsdokumente, het dié plan genadiglik deur die mat geval.
Kinderland se kontrak met KleuterZone sentreer rondom die gebruik van die skolegroep se bemarking, sillabus, toerusting en administrasie.
Meer as R15 miljoen is aan die bemarking van KleuterZone in 2024 betaal.
Bemarking was ook gemik op diegene met lompsomme geld, soos pensioenarisse. Strydom glo dat gevaarligte verder verdof is weens die feit dat beleggers “nooit sou kon raai dat kindertjies gebruik sal word in ’n beleggingskema, wat al meer na ’n Ponzi-skema lyk nie.”
Goed soos klouterrame kon goedkoper deur KleuterZone bekom word, met beleggers wat ten volle gevestigde skole met die intrapslag beloof word.
Strydom het ook intussen uitgevind dat die klimrame plaaslik vervaardig is op huurkoop, en nie in Thailand aangekoop is, soos Bougas vertel nie.
Die gevolg is dat verskeie van die groep se 120 KleuterZone-skole landswyd, nie eens die toerusting besit nie, omdat KleuterZone moontlik nog geld daarop skuld.
’n Moneyweb-ondersoek na KleuterZone se sakemodel dui daarop dat beleggers se geld aangewend word om meer skole op die been te bring.
Bougas het in ’n stempos in besit van die Middelburg Observer erken dat hy aandele in bestaande skole verkoop om meer skole oop te maak.
Drukkende vrae rondom die besigheidsmodel het nou daartoe gelei dat ’n voorlopige likwidasiebevel teen KleuterZone op 18 Maart toegestaan is.
Na raming het Bougas tussen R200 en R300 miljoen se beleggings uit die skolegroep gegenereer uit meer as 1 300 beleggers soos Strydom.
Bougas is tans landuit en daar’s geen aanduiding van wanneer hy sal terugkeer nie. Beleggers vrees dat hy gevlug het.
Hy het wel ’n persverklaring op sy webwerf uitgereik en sê daar is ’n belangrike onderskeid tussen KleuterZone franchise-skole en KleuterZone beleggingskole, met franchise-skole wat onafhanklik onder hul eie bestuur funksioneer, maar steeds die KleuterZone-onderrigmodel en handelsmerk volg.
Hy verduidelik beleggingskole word deur KleuterZone besit, maar dra nie altyd die KleuterZone-naam nie.
Baie van hierdie skole is deur KleuterZone verkry van vorige eienaars en in sommige gevalle is hul oorspronklike handelsmerk behou.
KleuterZone se finansiële model is, volgens Bougas, gebou op drie primêre inkomstestrome, naamlik “skoolfooie, opvoedkundige programme en geleenthede.”
Verder funksioneer elke skool as ’n afsonderlike entiteit met sy eie inkomstestrome, uitgawes, personeel en aktiwiteite.
Hy ontken dat KleuterZone ’n piramideskema is en belowe dat niemand hulle geld sal verloor nie.Beleggers sê egter die beloofde opbrengste van tussen 32% en 62%, afhangende van die belegging, nie realiseer nie.
Alle kontak is intussen deur KleuterZone met Kinderland verbreek, met Strydom wat sê dat sy prokureurs nou ingetree het.
Hulle het besluit om met die skool aan te gaan sonder KleuterZone se betrokkenheid.
Strydom sê Kinderland plaas kinders se belange bo geld. “Ons vra die gemeenskap om ons regverdig te oordeel, sonder die KleuterZone geraas, want ons het wonderlike personeel en ons kinders is gelukkig, almal is meer as welkom om Kinderland te besoek om ons passie vir ons kinders eerstehands te ervaar.”
• Kinderland se skoolhoof kan direk gekontak word vir navrae by 079 661 9170.
LEES BOUGAS SE VOLLE PERSVERKLARING HIER:
PRESS STATEMENT BY ANTHONIE BOUGAS, FOUNDER AND CEO OF KLEUTERZONE
