News

Agtjarige geskok terwyl hy aan kraan in tuin vat

’n Agtjarige seuntjie is vanoggend geskok toe hy aan ’n buitekraan by sy oupa-hulle se huis gevat het.

’n Agtjarige kind het vir meer as ’n halfuur pyn in sy arm gehad nadat hy aan ’n buitekraan gevat en dit hom geskok het.

“My kind kon vanoggend doodgeskok gewees het!” het ’n ontstoke Christo Steyn (van Belfast) pas gesê.

Sy seuntjie, Duwan, kuier tans by sy grootouers, Wessel en Nettie Steyn, in Emgwenya (Waterval Boven). Die knapie het vanoggend saam met sy oupa in die tuin gewerk en wou sy modderhandjies afspoel, toe die kraan hom omstreeks 11:30 geskok het.

“Die kind het só gegil toe hy geskok is, dat ons gedink het ’n slang het hom gepik!” het Hannes Smit, buurman, ook omgekrap gesê.

“Die oomblik toe hy aan die kraan vat, het die krag hom geskok en sy handjie vasgegryp. Hy moes hom losruk om weg te kom. Hy het tot by my gehardloop en vreeslik gehuil,” sê oom Wessel.

Volgens Hannes en oom Wessel, wat in onderskeidelik Brugstraat 15 en 17 in Emgwenya bly, word hulle almal al sedert 11 Maart geskok as hulle aan hul krane vat.

“Dit het begin gebeur vandat ons daardie dag beurtkrag gehad het,” het hulle genoem.

Hannes het gelukkig plastiekkoppe vir sy krane, maar die Steyns moes plastiek om hul krane draai in die huis, net om te kan stort.

Die voorval met Duwan by die buitekraan, is die eerste keer dat dit só erg was.

Hannes en oom Wessel het die probleem al verskeie kere onder die aandag van die elektrisiëns in Emgwenya, asook die Emakhazeni Munisipaliteit in Belfast gebring.

“Hulle kom na die paal toe en sê die fout is daar, maar dit is nog nie reggemaak nie. Moet een van ons eers doodgeskok word, voordat dit reggemaak kan word?”

Hannes het aan die hand van video’s wat in die aand geneem is, ook gewys dat daar op sy palissadeheining die hele tyd elektriese kortsluitings is. ’n Mens sien die vonke tot in die slot op die heining en hoor ook duidelik die geluid van die kortsluitings.

@middelburgobserver

Kragprobleem by paal van twee huise in Emgwenya (Waterval Boven) maak vonke in slot en op palissadeheining.

♬ original sound – MiddelburgObserver

Die mans het DA rdl. Amanda Botha (raadslid vir die Nkangala Distrik) in kennis gestel van die voorval waar Duwan geskok is en het sy dadelik weer die elektrisiëns in kennis gestel.

Terwyl die joernalis nog besig was om met oom Wessel te praat, het hy aangedui dat die elektrisiëns pas daar gestop het (omstreeks 14:30).

Hulle is meegedeel dat dit more-oggend reggemaak sal word met nuwe kabels. Beide die mans het rdl. Botha, asook die elektrisiëns wat vanmiddag uitgekom het, bedank.

  • Oom Wessel het melding gemaak daarvan dat hy onlangs 300 eenhede krag gekoop het, wat binne drie dae net verdwyn het. Hulle het daarna nog twee of drie keer nóg krag gekoop, waarop hul krag tydelik oorbrug is, om te kyk wat die probleem is.

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button