Wielbende slaan toe by gastehuis
’n Gastehuis op Middelburg moes R42 000 opdok nadat een van hul gaste se wiele van sy Fortuner afgesteel is.
Volgens mnr. Jaco Bothma, eienaar van Town and Country B&B, het die bende wat al vir meer as drie jaar die gastehuis teister, Donderdag in die vroeë oggendure toegeslaan.
“Dis die derde keer wat hulle by ons toeslaan, en ek het juis gereël om kameras te laat installeer sodat ons nou die perseel kan moniteer.”
Volgens mnr. Bothma is die eiendom omring met twee-en-’n-half meter hoë steenmure en is dit nie maklik om toegang tot die perseel te kry nie.
“Hierdie outjies weet presies wat hulle doen en werk ongelooflik georganiseerd. Hulle is baie vinnig en werk stil.”
Mnr. Bothma moes die wiele self vervang, wat hy dan later sal terugeis by sy versekering, maar hy sê versekeraars raak al moeiliker om uit te betaal.
“Dis vir my sleg, want dis ’n ou klant wat al jare by ons bespreek. Die ergste was die vorige geval toe hulle die wiele van drie voertuie gesteel het. Dit gee Middelburg en ons gastehuise ’n slegte naam, mense gaan nie meer hier wil bespreek nie.”
Volgens Bothma teiken hierdie bende veral Toyota voertuie en het hulle in die vorige geval die wiele van twee Hilux bakkies en ’n Fortuner gesteel.
“Dit voel vir my asof die polisie nie antwoorde het nie en hulle ry ook nie patrollies nie. Hulle moet paraat wees, want al hoe Middelburg van die probleem sal ontslae raak is as hierdie bendes besef hulle gaan nie in Middelburg regkom nie. ”
Die besigheid wat die wiele vervang het, het hom meegedeel dat dit die derde geval in ’n maand in Groenkol is.
“Ek kan nie alarm-ogies buite laat opsit nie, omdat baie van my oorsese kliënte laat aankom of vroeg ry. Ons gaan wel kameras laat installeer wat deur ’n sekuriteitsfirma gemonitor sal word.”
