News

Dubbel trauma vir gesin na broer in ongeluk sterf én boewe hul huis teiken

’n Gesin beleef erge trauma nadat hulle nie net iemand aan die dood moes afstaan nie, maar inbrekers ook hul huis se dakteëls weggeskuif en die reën erge skade aangerig het by hul huis.

Carmen Hewgill se broer het Saterdagoggend in ’n ongeluk gesterf en moes sy kort daarna ook hoor dat daar vir ’n tweede keer skade by hul huis in CR Swartstraat (Dennesig) is nadat boewe die dakteëls weggeskuif het.

“Ek is sielsmoeg,” het sy hartseer gesê.

Carmen is tans nog in Brandfort waar sy haar ouers, Johan en Malinda ondersteun nadat haar broer, Dohan (24) in ’n motorongeluk net buite Theunissen, oppad na Brandfort gesterf het.

Sy vertel dat hulle Saterdagoggend die hartseer nuus gekry het dat haar broer in die ongeluk gesterf het.

Ian het Carmen en die kinders dadelik deurgevat na haar ouers toe sodat hulle mekaar kan ondersteun. Hy moes egter Sondag terugkeer Middelburg toe, omdat hy moes werk.

Gisteraand met die erge reën het hy gehoor dat dit inreën op die plafon in hul dogter se kamer. Hy het dadelik die luik gaan oopmaak om te sien waar die dak lek, waarop hy gesien het dat die dakteëls weggeskuif is!

Die gat in die dak van binne af gesien waar die inbrekers die dakteëls weggeskuif het.

Die buurman het hom meegedeel dat hy Saterdagnag die honde hoor blaf het en na buite is en ook op die dak met die flits gelig het, maar niks kon sien nie. Hy was egter aan die ander kant van die huis en sou nie kon sien waar die teëls uitgelig is nie. Die honde het kort daarna stil geraak.

Die vermoede bestaan dat die booswigte in die dak geskuil het tot die buurman terug is in sy huis in en daarna gevlug het, want daar is niks in die huis gesteel nie.

Carmen meld dat dit die tweede keer is dat boewe dakteëls by hul huis uithaal.

“In Desember het dit ons R28 000 gekos om die plafon en die area om die kaggel reg te maak nadat hulle ook in ons dak was en dit ingereën het!”

Dit het R28 000 gekos om die plafonne reg te maak in Desember nadat die booswigte dakteëls afgehaal het.

Sy en die kinders het op daardie stadium ook vir ’n paar dae by haar ouers gekuier en was Ian alleen tuis. Hulle vermoed die inbrekers het gedink daar is niemand by die huis nie.

Ian het die nag ook iets gehoor en ondersoek ingestel, waarop die inbrekers weer deur die dak gevlug het. Die volgende dag na die reën, het hulle die inbrekers se gereedskap op die dak gekry.

Van die boewe se gereedskap is tydens die voorval in Desembermaand op die dak gevind.

Carmen het gesê dat hulle ’n plaaslike sekuriteitsgroep gevra het om na hul huis om te sien as Ian Brandfort toe gaan vir Dohan se begrafnis. Die begrafnis is Saterdag om 11:00 uit die Brandford NG Kerk, Moedergemeente.

• Dohan was Saterdagoggend op pad terug vanaf Theunissen na Brandfort, nadat hy wegneemetes gaan koop het.

“Hy wou Saterdag vir hom gaan klere koop in Bloemfontein en het vroeg gery om wegneemetes te gaan koop en huis toe te vat. ’n Werker sou daarna saam met hom ry Bloemfontein toe om die inkopies te gaan doen.”

Carmen het haar jonger boetie beskryf, “as die man met die grootste skouers en grootste hart. Hy was die life van elke party”.

Dohan word oorleef deur sy ouers en Carmen en haar gesin.

• Daar is in Springbokstraat (Kanonkop) ook by buitegeboue deur die dak ingebreek, waar ’n platskerm televisiestel en fiets gesteel is.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button