News

Rooies ondersteuner se plek leeg langs sportvelde

Johan van den Berg het sy gesin in alles ondersteun.

Johan van den Berg, die saggeaarde man wat weekliks langs HTS Middelburg se sportvelde in sy stoel sy eie kinders en die skool se ander sportsterre ondersteun het, is Donderdag in die Milpark Hospitaal oorlede.

“Ons kinders was net betyds om hul pa te groet,” het sy vrou, Tanya, gesê.

Die dokter het Donderdagoggend vir haar gesê dat Johan baie swak is en het hulle dadelik gery om die kinders te gaan haal.
Tannika, in graad 12, was by ’n netbaltoer saam met haar span in Cullinan en het sy nog haar laaste wedstryd klaar gespeel. Johandré is op Mookgophong (Naboomspruit) gehaal waar hy deel was van die tennistoer.

Johan, wat ’n bekende prokureur was, is sowat agt jaar gelede medies ongeskik verklaar weens sy hartprobleme.

Twee jaar gelede het hy ’n spesiale masjien, ’n L-Vad-masjien, gekry wat sy linkerhartkamer se funksies oorgeneem het. Die masjien was aan batterye gekoppel wat hy saam met hom gedra het.

Hy moes eers twee jaar met dié masjien oor die weg kom om in aanmerking te kom vir die waglys vir ’n hartoorplanting.
“Hy sou op 1 April op die waglys gegaan het.”

Johan was die afgelope paar jaar gereeld in en uit die hospitaal en toe hy twee weke gelede weer siek geword het, het hulle gedink hy sal net weer huistoe kom.
“Ons was so gewoond hy is elke dag by die huis, waar hy álles vir ons gedoen het!”

Met sy opname was hy egter baie swak en het hy agteruit gegaan tot met sy afsterwe Donderdagmiddag. Tanya meld dat hy weens nierversaking gesterf het.

Johan se ma, Marilyn, sê sy het ook by haar seun se bed gesit tot sy laaste oomblikke.

Beide Tanya en Marilyn onthou hoe geliefd hy by die leerlinge van HTS was.
“Een van die ouers het ons geskakel en gesê hulle het hom nie geken nie, maar hul kind wil Donderdag ook begrafnis toe gaan en voor sit, omdat hy so lief was vir Johan. Johan was hul ander pappa langs die veld.”

Sy gesin en familie onthou hom as ‘n omgeemens wat uit sy pad uit gegaan het om elkeen wat sy pad gekruis het, te help.

Johan word oorleef deur Tanya, kinders Tannika en Johandré, sy moeder Marilyn, broers Bernard en Riaan en suster Michelle.
’n Gedenkdiens word Donderdag om 11:00 uit die Ou Apostoliese Kerk gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button