KYK: Twee trokke bots weens slaggate tussen Arnot en Middelburg
Vieslike paaie, vieslike ongelukke
Die roetes rondom Arnot is almal, buiten die N4 wat deur Trac onderhou word, in skokkende verval, wat vanmiddag kort na 13:00 ’n botsing tussen twee trokke tot gevolg gehad het.
Dit blyk dat die trokke gebots het nadat een moontlik moes stop vir slaggate.
’n Arnot inwoner wat verby die ongeluk is vanuit eMalahleni na Arnot, waar sy tuisgaan, sê sy kla al vier jaar oor die roetes rondom Arnot.
Die paaie is ongeveer drie jaar gelede geseël maar die werk was van so swak gehalte dat groot dele teerpad opgelig het.
Die klaer het ook al verskeie eise teen die provinsie vir voertuigskade ingedien, maar hoor nie eens terug van die regering nie.
@middelburgobserver Traffic at snails pace on Arnot road following crash involving two trucks, due to potholes.
In Middelburg word daar ook jaarliks verskeie eise teen die munisipaliteit ingestel.
Die klaer sê dat mense op die roetes gaan sterf.
“Ek het al foto’s en klagtes tot vervelens toe aangestuur, en van die eise kom daar niks,” sê die vrou.
Sy sê sy kan eerlikwaar nie onthou hoeveel windskerms sy al moes vervang nie.
Bande moes sy ook al vervang.
Sy sê dat motoriste in aankomende verkeer moet injaag om die slaggate te vermy.
Indien daar nie uitgeswaai word nie, moet voertuie feitlik dood stop, en die gevaar loop om van agter in vasgejaag te word.
Die klaer sê die reën het alles net vererger.
Haar klagtes by die DA het ook tot dusver geen impak gehad nie.
Weens die swaer reën die afgelope tyd het die padoppervlak net vererger.
En, volgens die klaer was daar laasweek ook ’n stootskraper wat ’n hele dwarssnit teerpad verwyder het, weens diep slaggate.
“Wie dit was, weet ek nie,” sê die klaer.
Waarskuwingsbordjies is wel opgesit.
“Maar waar het jy nou al gesien dat Suid Afrikaanse padvarke ag slaan op verkeerstekens en borde,” het die klaer sarkasties gelag.
Sy sê sy meld nie eens meer haar skade by die versekering aan nie, want haar premies styg net.
Ongelukkig is dit provinsiale paaie en daar’s lanklaas onderhoudspanne op dié paaie gesien.
SG Coal maak gereeld groot stukke van die Stoffberpad reg, tot groot lof van motoriste.
“Ongelukkig kan ons nie dieselfde sê nie,” sê die klaer.
• Die botsing is ook op die Traffic Alert groep aangemeld.
